Soorte resepte:

Kosblik-idees: Frikkadelle

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Almal wat gereeld kosblikke moet pak, raak soms moedeloos om nuwe idees uit te dink. My oplossing is dan om ou bekende idees (en dit waarvan my kinders hou) met geurmiddels ‘n bietjie te verander. Frikkadelle is so lekker vir ʼn kosblik, want dis maklik om te maak, kan gevries word en is gerieflik om in te pak en hanteer.

Vir die resep het ek ʼn bietjie kerriepoeier en koljander gebruik en die wortel daarin gee ʼn natuurlike soet smaak aan die frikkadelle. Saam met die hawermout is daar dus ook sommer reeds stysel in die ete en as die res van die kosblik ook ander groente en iets soos ʼn appel insluit, is daar heelwat kosse wat ook bydra tot die balans van die ete en die koolhidrate.

ʼn Ander stysel is dus nie nodig nie en dis dan juis onverfynde stysels wat deel is van die ete. Daar is ook genoeg kleure en teksture om dit interessant te maak en ʼn lekker verskeidenheid van voedingstowwe in te sluit. Guacamole (avo-doopsous) pas perfek by al die ander elemente en daar is ook gesonde vette in die ete.

Frikkadelle

  • Resep aangepas uit Cooking from the heart 1
  • Lewer 6 porsies

Bestanddele:

  • 60 ml (¼ k) hawermout
  • 500 g maer beesmaalvleis
  • 1 Nulaid eier, geklits
  • 1 ui, gerasper
  • 1 wortel, gerasper
  • 2,5 ml (½ t) sout
  • suurlemoensap en swartpeper na smaak
  • 10 ml (2 t) gemaalde koljander
  • 5 ml (1 t) kerriepoeier of na smaak
  • 15 ml (1 e) Westfalia avokado-olie

Metode:

  1. Meng die hawermout en maalvleis met die res van die bestanddele, behalwe die olie. Vorm klein frikkadelle.
  2. Verhit ʼn dun lagie olie in ʼn groot braaipan (gebruik ʼn AMC 24 cm Chef’s Pan) en braai frikkadelle aan beide kante tot goudbruin.
  3. Verlaag die hitte, sit ʼn deksel op en prut 8-10 minute of tot gaar. Skep uit en herhaal met die res van die frikkadelle.
  4. Sit as aandete voor of pak in ʼn kosblik met groente en ʼn seisoensvrug soos ʼn appel. Pak van Westfalia se guacamole in as ʼn doopsous vir die groente en frikkadelle en ʼn klein porsie neute om later deur die dag as peuselhappie te geniet.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot Ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

logo

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Rerig ·

So asof enige ander hoender eier nou die resep sal laat flop!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.