Soorte resepte:

Resep: Kraakvel-geelstert

Kraakvel-geelstert (Foto: Lapa-uitgewers)

Geelstert is ʼn bekende Suid-Afrikaanse lynvisspesie en is die tweede algemeenste lynvangs naas snoek. Lynvissery is ʼn relatief geselekteerde manier van visvang wat nie veel van ʼn impak op die mariene omgewing het nie en met ʼn visstok of -lyn deur kommersiële vissery of hengelaars vir ontspanning gebruik word. Die “lynvis van die dag” op restaurantspyskaarte is gewoonlik geelstert.

Bestanddele

  • 10 ml olyfolie
  • 10 g botter
  • 2 groot knoffelhuisies, fyngekap
  • 60 ml tequila
  • 100 ml room
  • 3ml paprika
  • vars suurlemoensap
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 2 geelstertfilette, sowat 150 g elk
  • ʼn skeutjie sonneblomolie

Metode

  1. Verhit die olyfolie en botter in ʼn braaipan totdat die botter verbruin.
  2. Voeg die knoffel by en soteer tot goudbruin.
  3. Voeg die tequila by en flambé die alkohol. Sodra die vlamme bedaar het, voeg die room en paprika by en kook die sous oor lae hitte totdat dit verdik het.
  4. Geur met suurlemoensap, sout en peper.
  5. Berei die vis voor deur eers die vel met papierhanddoek droog te druk. Gebruik ʼn baie skerp mes en keep die velkant van die vis diagonaal effens in.
  6. Verhit ʼn kleefvrye braaipan totdat dit rookwarm is en voeg dan ʼn skeutjie sonneblomolie by. Plaas die vis met die velkant na onder in die warm pan. (Die pan moet baie warm wees om te keer dat die vis vassit.)
  7. Gebruik ʼn paletmes en druk die vis plat om die vel op die panbodem te hou. Sodra die vel goudbruin en bros is, keer die vis versigtig om en maak die ander kant gaar. Afhangende van hoe dik die vis is, mag dit dalk nodig wees om die gaarmaakproses in die oond te voltooi.
  8. Sodra die vis gaar is, geur dit met ʼn skeutjie vars suurlemoensap. Bedien onmiddellik saam met die geskroeide knoffel-en-tequilasous.

Bron: Die Suid-Afrikaanse vis-en-seekoskookboek

Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Thys ·

Dit klink heerlik! My enigste bekommernis is dat mens ‘n kleefvrye pan “rookwarm” moet kry voordat mens die vis in het. Ek het geleer dat mens nie ‘n kleefvrye pan moet baie warm maak sonder kos in nie, aangesien mens die pan se leeftyd baie verkort? Weet nie of daar enige waarheid in strook nie?

WL ·

Jy is reg Thys. Dit is beter om die pan warm te maak terwyl die olie reeds in is.

Paul ·

Ek het ‘n idee die vis in die foto is nie ‘n geelstert nie. ‘n Geelstert se vleis is nie wit nie, kyk daar langs die kante.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.