Soorte resepte:

[Resep] Lae GI-vis en skyfies

Vis

Lae GI-vis en skyfies Foto: Jou beste lewe

Soetpatats is goed vir jou. Ja. Knip nog ʼn keer jou oë – jy het nou net “soet” en “goed” in een sin gelees. En of jy nou verkies om aartappel of ertappel te sê, soetpatats is die regte keuse om te maak. Soetpatats bevat 400% van jou daaglikse behoefte aan vitamien A (dit is dieselfde persentasie as wortels, wat die oorspronklike vitamien A-wonderkos is) en bevat meer vitamien C en minder kalorieë as gewone aartappels.

Bedien 4

Bestanddele:

Skyfies

  • 4 medium soetpatats – geskrop, maar nie geskil nie en in ringe of wiggies van 2 cm gesny
  • 2-3 eetlepels olyfolie
  • 2 eetlepels vars roosmaryn, gekap
  • sout en varsgemaalde peper na smaak

Vis

  • 3 snye lae GI-brood, gekrummel (jy kan ook koringvrye brood of rogbrood gebruik)
  • 1 teelepel sout
  • 1 teelepel peper
  • 3 groot vryloop-eiers
  • 50 ml melk
  • ½ koppie volgraanmeel
  • 400 g stokvisfilette, ontvel
  • 75 ml ongegeurde klapperolie

Tartare-sous

  • 150 ml Griekse jogurt
  • 1-2 vingergrootte agurkies, gekap
  • sap van ½ suurlemoen
  • varsgemaalde sout en peper
  • varsgekapte dille (opsioneel)

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 200 °C.
  2. Meng die patats met die olyfolie en roosmaryn in ʼn kleefwerende pan of in ʼn pan wat met foelie uitgevoer is.
  3. Geur met sout en peper. Plaas in die oond en rooster vir 20 minute.
  4. Verwerk die brood saam met die sout en peper in ʼn voedselverwerker tot krummels en sit dit in ʼn vlak bak.
  5. Meng die eier en melk in ʼn bakkie. Plaas die meel in ʼn ander bakkie. Sny die vis met ʼn sjefmes in lang repe op ʼn snyplank. Verhit ʼn pan oor matige hitte.
  6. Doop elke reep eers in die meel, dan in die eier en dan in die krummels. Hou eenkant totdat alles gereed is om gebraai te word.
  7. Gooi die olie in die pan en braai die visvingers ʼn paar op ʼn slag, 1-2 minute aan ʼn kant. Vee elke keer die pan met kombuispapier uit voordat jy die volgende klompie braai.
  8. Meng al die sousbestanddele saam in ʼn bakkie en bedien saam met die vis en skyfies.

Bron: Jou beste lewe – Vinnige en gesonde gesinsetes
Uitgewer: CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

huiskok ·

Heerlik patat nog altyd wenner. Die DUUR en boonop SWAK gehalte aartappel het baie mense al laat sê NIE WEER.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.