“Hierdie slaai was oorspronklik met ʼn ongelooflike klomp koolhidrate en suiker belaai en rou 2-minuut-noedels is daarin gebreek. Dit is steeds maklik, bros en soet, maar is beslis meer banting-vriendelik.”
Só skryf Armand Aucamp in sy resepteboek Armand kook kaal.
Die resep lewer 4 porsies.
Bestanddele
SLAAISOUS
- 200 ml olyfolie
- 200 ml balsamiese asyn
- 100 ml xilitol
- 15 ml sojasous
- Varsgemaalde sout en peper
- 1 t hoenderaftrekselpoeier (goeie gehalte)
SLAAI
- sesamolie
- 500 g beesvleisstrokies
- Varsgemaalde sout en peper
- 20 g amandels, grof gekap
- 20 g sonneblomsade
- 4 sprietuie, teen ʼn hoek gesny
- 1 pak suiker-ertjies (sugarsnap peas), teen ʼn hoek gesny
- 1 jong koolkop, papierdun gesny (verkieslik die helfte groen en die ander helfte rooi – dit lyk net mooier)
Metode
- Gooi al die bestanddele vir die slaaisous in ʼn gasbottel met ʼn deksel. Sit die deksel op en skud baie goed sodat alles kan meng en die xilitol kan oplos. Plaas eenkant.
- Verhit die sesamolie tot vuurwarm in ʼn braaipan.
- Braai die beesvleisstrokies blitsvinnig tot mediumgaar en verwyder van die hitte. Geur met varsgemaalde sout en peper.
- Rooster die amandels en sonneblomsaad vir een tot twee minute in ʼn ander droë en warm braaipan deur dit aanhoudend te roer of te skud.
- Maak seker jy sny die sprietuie en suiker-ertjies teen ʼn hoek – dit lyk baie Oosters en laat dit ook meer Oosters smaak. Nie regtig nie, maar dit lyk baie mooi.
- Plaas die sprietuie, suiker-ertjies en kool in ʼn groot slaaibak.
- Gooi die beesvleisstrokies sommer direk uit die pan oor die kool – die sappe en sesamolie is heerlik saam.
- Strooi die geroosterde amandels en sade oor.
- Skud weer die glasbotteltjie met die slaaisous om alles weer goed te laat vermeng en gooi die sous oor die slaai na smaak. Moenie alles gebruik nie. Die res kan op ʼn ander geleentheid as ʼn marinade gebruik word.
Bron: Armand kook kaal deur Armand Aucamp
Uitgewer: Lapa