Soorte resepte:

[Resep] Ouvrou-onder-die-kombers

Wors

Foto: Wenresepte 2

Mev. RG Koekemoer van Thabazimbi sê op ʼn Saterdagmiddag smaak hierdie ekonomiese worsgereg heerlik saam met slaai.

Lewer 4-6 porsies

Bestanddele:

  • 100 g (200 ml ongesifte) koekmeelblom
  • 1 ml sout
  • 1 eier
  • 125 ml melk
  • 125 ml water
  • 500 g rou boerewors
  • 15 ml botter, margarien of uitgebraaide varkvet

Metode:

  1. Plaas die koekmeelblom en sout saam in ʼn middelslagmengbak. Maak ʼn holte in die middel van die meelmengsel en breek die eier daarin oop. Meng die melk en water en klits die helfte daarvan by die bestanddele in die mengbak.
  2. Klits die res van die vloeistof geleidelik by. Bedek die beslag en laat dit 1 uur lank rus. Voorverhit die oond tot 180 °C (350 °F).
  3. Prik die wors met ʼn vurk en plaas dit in ʼn oondvaste bak waarin dit losweg pas. Stip die wors met die botter, margarien of varkvet. Verhit dit in die oond tot goed warm.
  4. Giet die beslag oor die warm wors. Bak dit sowat 45 minute lank op die middelste oondrak tot die beslag bros en goudbruin en die wors gaar is. Sit dit warm voor.

Bron: Wenresepte 2
Uitgewer: Human & Rousseau

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

humor ·

Wonder wie gee sekere geregte hul name. Pas glad nie vir my by kos nie. Dit prikkel geensins my smaaksintuig nie.

Elizabeth ·

Lekker lag ek nou – dit kon erger gewees het – Ouman-onder-die-kombers…

humor ·

Elizabeth skerp, baie skerp. Jy bedoel met die wors as bestandeel.

Theresa ·

Ha ha ha! Moet sê, ek het gou gekliek om te kyk wat gaan aan in dié dis om so ‘n naam te kon kry!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.