Soorte resepte:

Resep: Skaapboud met braai-aartappels

Skaapboud met braai-aartappels

Die gewilde kykNET-sepie Suidooster is nou nie slegs meer op jou televisiestel beskikbaar nie, maar ook op jou kombuistafel! Hier is ʼn lekker resep deur Mrs J, wat deur Theresa Sedras vertolk word, uit hul resepteboek Suidooster-kombuis.

Lewer 6–8 porsies

Bestanddele

  • 1 groot skaap- of lamsboud
  • 15 ml sout
  • 15 ml droë mosterd
  • 25 ml botter of olyfolie
  • 2 takkies roosmaryn

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 160 °C.
  2. Vee die buitekant van die vleis met ’n klam lap af. Meng die sout, mosterd en botter en vryf dit in die vleis in. Sit die roosmaryntakkies onder in ’n oondbraaipan en plaas die vleis bo-op.
  3. Oondbraai die skaapboud ongeveer 45 minute lank, draai die vleis om en braai vir nog 45 minute.
  4. Bedek die vleisbak met tinfoelie en bak verder tot die vleis sag en bruin is. (Bereken ongeveer 40 minute per 1 kg vleis, plus 20 minute ekstra.) Bedruip die vleis af en toe met die vet in die pan.

Mrs J se wenke:

  • Ek braai altyd my aartappels saam met die vleis. Ek sit die geskilde aartappels ongeveer 1 uur voordat die vleis gaar is in die oondbraaipan. Rol dit in die vleissous sodat dit oraloor bedek is en geur behoorlik met sout.
  • Moenie die vleis met ’n vurk steek wanneer dit omgedraai word nie.
  • Laat die vleis minstens 20 minute staan voordat dit gesny word.

Suidooster word Maandae tot Vrydae om 18:30 op kykNET en kykNET & Kie uitgesaai. Suidooster-kombuis is by die meeste groot boekwinkels beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Willem

Lekkerrrrrr

Annalie

Presies soos ek myne maak