Soorte resepte:

[Resep] Skaapskenkelpot

Foto: Lekker en Vinnig - Potjiekos

Skaapskenkelpot. Foto: Lekker en Vinnig – Potjiekos

Lewer 6 porsies

Bestanddele:

  • 30 ml olyfolie
  • 1,5-2 kg skaapskenkels, in skywe gesny
  • 1 groot rooi soetrissie, in repies gesny
  • 15-18 heel pekeluie
  • 15-18 heel knoffelhuisies, ongeskil
  • 250-375 ml hoender- of groente-aftreksel
  • 15 ml elk droë tiemie en oreganum
  • 2 lourierblare
  • 300 g heel jong aartappels, in die skil, of gehalveer as redelik groot
  • 1 middelslag botterskorsie, geskil en in 3 cm-blokkies gesny
  • 5-7 takkies vars roosmaryn
  • 3 repe suurlemoenskil
  • 125 ml droë witwyn
  • 250 g bruin sampioene, in kwarte gesny
  • 30 g (½ pakkie) sampioensoppoeier, met genoeg water tot ʼn loperige mengsel aangemaak
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • ʼn groot handvol vars kruie, bv. Italiaanse pietersielie, basilie of oreganum

Metode:

  1. Verhit die olie in ʼn nommer 3-driepootpot oor matige tot warm kole. Braai die vleis in twee sarsies tot goudbruin en skep uit en hou eenkant.
  2. Soteer die soetrissie vir 3-5 minute, skep uit en hou eenkant. Braai die uie en knoffel tot goudbruin en skep die vleis met aftreksel, droë kruie en lourierblare terug in pot. Roer goed deur, plaas die deksel op en laat prut die vleis stadig oor matige kole vir 1 uur.
  3. Pak ʼn laag aartappels en ʼn laag botterskorsie op die vleis met roosmaryn en suurlemoenskil tussenin. Giet die wyn oor en laat prut nog 1 uur.
  4. Roer die soetrissie, sampioene en soppoeier versigtig deur. Geur na smaak en laat prut vir nog 20-30 minute of tot die vleis en groente sag is.
  5. Roer die vars kruie deur en sit voor met rys, koring, stampmielies, sagte polenta of mieliepap.

Wenke:

Skaapdikrib of -nekskywe kan ook gebruik word. Sny suurlemoenrepe met ʼn aartappelskiller, maar moenie enige wit gedeeltes ook insluit nie, dit kan die pot bitter maak. Vervang skenkels met hoenderporsies. Soteer groente soos hierbo en pak dan met res van bestanddele en 125 g gedroogde perskes gelyktydig in lae in pot. Prut vir ongeveer 1 uur of ʼn bietjie langer tot hoender en groente net gaar is.

Bron: Lekker & Vinnig
Uitgewer: Lapa
Resep oorspronklik gepubliseer in Onthoukos, Heleen Meyer

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.