Soorte resepte:

Resep: Soet kerrie-sosaties

Soet kerrie-sosaties (Foto: Lekker & vinnig: Sosaties/Lapa Uitgewers)

Waag jou hand aan dié soet kerrie-sosaties by julle volgende braai.

Lewer 8 tot 10 porsies

Bestanddele

Marinade:

  • kookolie (vir vlakbraai)
  • 2 middelslaguie, in skywe gesny
  • 30 ml koljandersaadjies, fyngestamp
  • 5 ml fyn kaneel
  • 5 ml garam masala
  • 5 ml fyn gemmer of 15 ml gerasperde vars gemmer
  • 5 ml fyn wonderpeper
  • 60 ml bruinsuiker
  • 15 ml mielieblom
  • 10 ml sout
  • 180 ml witwynasyn
  • 125 ml droë rooiwyn
  • 15 ml appelkooskonfyt
  • 4 knoffelhuisies, gekap
  • 5 lourierblare
  • 125 ml melk
  • 125 ml water

Vleis:

  • 2 kg lamsvleisblokkies
  • 500 g spekrepe, in blokkies gesny
  • 12 tot 16 droë appelkose
  • 6 klein pekeluie, geskil en oorkruis gesny
  • 12 tot 16 sosatiestokkies, vir 1 uur in water geweek

Metode

Marinade:

  1. Verhit die olie in ʼn swaarboompan en braai die uie tot goudbruin.
  2. Meng al die droë bestanddele, behalwe die lourierblare, saam en voeg by die gebraaide uie. Braai die mengsel liggies vir 1 tot 2 minute sonder om die speserye te laat brand.
  3. Meng die asyn, wyn, konfyt en knoffel saam in ʼn maatbeker.
  4. Verminder die hitte en voeg die asynmengsel en die lourierblare by. Meng dit goed met die uiemengsel en laat dit liggies prut tot die marinade verdik het.
  5. Laat die marinade heeltemal afkoel en voeg die melk by.
  6. Voeg die water bietjie-bietjie by om die marinade loperig genoeg te kry.

Vleis:

  1. Ryg die vleisblokkies, spekblokkies, appelkose en uie al om die beurt op die sosatiestokkies. Sorg dat daar ten minste twee appelkose en twee stukkies ui op elke sosatie is.
  2. Pak die sosaties in lae in ʼn glas- of plastiekbak (nie metaal nie) en giet van die marinade oor elke laag.
  3. Seël die bak en laat dit vir 2 tot 3 dae in die yskas rus. Draai die sosaties gereeld om.
  4. Braai die sosaties vir 7 minute aan elke kant oor warm kole of tot gaar genoeg na smaak.

Bron: Lekker & vinnig: Sosaties

Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Daleen ·

Bart-Man dis beter bekend as Allspice. Jy kan ook jou eie mengsel maak met ‘n van kaneel, naeltjies en neutmuskaat. Hoop dit help.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.