Soorte resepte:

[Resep] Speserywors met beet-en-bosbessiesous

Foto: Gunsteling Braairesepte

Speserywors met beet-en-bosbessiesous. Foto: Gunsteling Braairesepte

Vir Saterdag se braaidag het ons dit goedgedink om hierdie week heerlike braairesepte te deel. Gaan jy Saterdag braai?

Genoeg vir 4

Bestanddele:

  • Vir die speserywors
  • 5 ml elk paprika, mosterdpoeier, koljandersaad, komynsaad, droë oreganum, brandrissie-vlokkies, growwe sout en swartpeper
  • 1 standaard pakkie wors
  • 15 ml gesmelte Cover Farmstyle-botter

Vir die beet-en-bosbessiesous

  • 5 vars bete
  • 1 ui, fyngekap
  • 1 Granny Smith-appel, geskil, stronk verwyder en gekap
  • 60 ml droë bosbessies
  • 125 ml balsamiese asyn
  • 125 ml Clover Krush-bessiesap
  • 125 ml suiker
  • 5 ml gerasperde lemoenskil
  • 2 ml fyn kruienaeltjies

Metode:

Wors

  1. Plaas die speserye in ʼn vysel en stamper en stamp tot grofgemaal en aromaties.
  2. Smeer die wors aan albei kante met die gesmelte botter en sprinkel van die speserye oor.
  3. Rooster op die braai en geur met die speserymengsel.

Beet-en-bosbessiesous

  1. Was die bete en draai elke beet in foelie toe. Plaas op ʼn magtige braai of maak gaar in die oond tot sag, vir so 50 – 60 minute. Sit eenkant. Wanneer koel genoeg om te hanteer, trek die skil af en sny die punte af. Sny rofweg in blokkies en plaas in ʼn pot.
  2. Voeg die oorblywende bestanddele by en kook – hou aan roer tot die suiker opgelos is. Prut oor ʼn lae hitte vir 35 – 45 minute en laat die mengsel effens verdik.
  3. Bedien warm of teen kamertemperatuur saam met die speserye-wors.

Bron: Clover gunsteling braairesepte
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

humor ·

Nee wat hier eet jy jou weer vol aan speserye. As jy van die goete uitlaat sal jyself dit nie eens agterkom nie. Lekker boerewors is regtig nie so ingewikkeld nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.