Lewer ± 48 wieletjies
Bestanddele:
Deeg
- 500 ml koekmeel
- 10 ml bakpoeier
- knippie sout
- 15 ml strooisuiker
- 187 ml fyngerasperde Cheddarkaas
- 125 ml melk
- 90 ml olie
Vulsel
- bietjie olie
- 1 ui, fyngekap
- 2,5 ml gekapte vars knoffel
- 2,5 ml droë gemengde kruie
- 1 x 185 g-blik tuna in water, gedreineer
- 3 hardgekookte eiers, fyngekap
- 45 ml pikantrissieblatjang
- 2 grasuie, gekap
- knippie rooipeper
Metode:
- Voorverhit die oond tot 180 °C en voer ’n bakplaat met bakpapier.
- Deeg: Sif die meel, bakpoeier en sout in groot mengbak. Roer die strooisuiker by.
- Roer die kaas by en meng goed.
- Meng die melk en olie en roer by meelmengsel tot ’n deeg vorm.
- Rol die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak tot ongeveer 14 cm x 30 cm uit. Sny die deeg op die lang kant in die helfte deur sodat jy twee langwerpige deegstroke het.
- Vulsel: Verhit ’n bietjie olie en soteer die ui, knoffel en kruie daarin tot sag.
- Verwyder van die hitte en roer die oorblywende bestanddele by.
- Smeer die vulsel oor die deeg maar los 3 cm van die deegrande oop.
- Rol die deeg soos ’n rolkoek op. Begin by die lang sykant en sny in skyfies van 1,5 cm.
- Plaas die skyfies op die voorbereide bakplaat en bak vir 15 minute of tot goudbruin.
Bron: Lekker en Vinnig
Uitgewer: Lapa
Resep oorspronklik gepubliseer in 50 Beste gebak uit Vrouekeur deur Marlo Carstens.