Soorte resepte:

Resep: Tunakoekies

Tunakoekies (Foto: Verskaf)

Kosblikpak hoef jou nie te laat kopkrap as jy kreatiewe en voedsame kos in jou gesin se kosblikke wil pak nie. Hou dit kleurvol en pak iets uit elke voedselgroep om dit gebalanseerd te hou. Hier is ’n maklike viskoekieresep wat jy in ’n japtrap kan voorberei en waaroor die hele gesin gaan dol wees. Die tunakoekies kan koud of warm geëet word en is perfek vir ’n aandete én die volgende dag se kosblikke.

Resep uit Kos is op die tafel!

Lewer ongeveer 30 – 40 koekies

Bestanddele:

  • 2 x 170 g-blikke tuna in water, deeglik gedreineer
  • 1 klein ui, fyn gekap
  • 1 knoffelhuisie, fyngedruk
  • 125 ml (½ k) koekmeel
  • 2,5 ml (½ t) bakpoeier
  • 2 eiers
  • 100 ml melk
  • 100 ml mayonnaise
  • 45 ml (3 e) grofgekapte kappertjiesade of agurkies
  • 30-45 ml (2-3 e) gekapte vars pietersielie of grasuie of 10-15 ml (2-3 t) gedroogde pietersielie
  • 15 ml (1 e) suurlemoensap of meer na smaak
  • 30 ml (2 e) vrugteblatjang
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 45-60 ml (3-4 e) avokado- of olyfolie om te braai

Metode:

  1. Plaas die tuna in ’n mengbak en vlok effens fyner as dit nodig is. Roer die orige bestanddele, behalwe die olie, goed deur tot die meel en vloeistof ingemeng is.
  2. Verhit 15-20 ml van die olie oor matige hitte in ’n braaipan (gebruik ’n AMC 28 cm Chef’s-pan) en braai lepelsvol van die mengsel 3-5 minute of tot goudbruin en net gestol bo-op. Draai versigtig om en braai nog ’n paar minute tot goudbruin en gaar.
  3. Dreineer op kombuispapier en hou warm. Die viskoekies is heerlik vir ’n aandete met groente en slaai. Of maak sommer dubbel en laat ’n gedeelte afkoel om met mielies aan die stronk of klein aartappeltjies en vars bestanddele, soos soetrissie, tamaties of druiwe, in ’n kosblik te pak.

Wenke

  1. Vervang die tuna met 1 x 425 g-blik sardyne in tamatiesous en druk dit met ’n vurk fyn voor die res van die bestanddele bygeroer word.
  2. As jy hou van ’n doopsous saam met viskoekies, is ongegeurde jogurt heerlik met die tuna-weergawe.

Kyk Maandae-oggende na #Kosblik op Die Groot Ontbyt, kykNet kanaal 144 vir nog lekker maklike en gesonde resepte. Volg Heleen op Facebook www.facebook.com/HeleenMeyerFood en besoek gerus haar webwerf, www.heleenmeyer.co.za, vir nog smullekker idees. Haar resepteboek, Maak vyf is ook op Maroela se e-winkel https://maroelawinkel.co.za/ beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.