Soorte resepte:

Resep-video: Beesbredie 

Beesbredie. (Foto: Elsabé Erasmus/Maroela Media)

Berei die gereg sommer die vorige aand voor en bêre dit in die yskas. Dis ook ideaal om in kleiner porsies te vries en dan sommer vinnig-vinnig ʼn heerlike maaltyd vir die gesin voor te sit. Dis gesond en spaar boonop sommer baie tyd, aangesien jy dit maklik in die prutpot kan plaas en met jou ander verpligtinge kan voortgaan. Die bredie is heerlik saam met rys of kapokaartappels. 

Indien jy nie ʼn prutpot het nie, kan jy die gereg in ʼn lekker groot pot op die stoof maak. Bring die gereg tot kookpunt en verlaag dan die hitte tot dit prut. Die vleis moet baie lank kook sodat dit sag kan word. Onthou om dit met die deksel op die pot gaar te maak. 

Bestanddele

  • 1 kg bees kookvleis
  • 500 g groente, opgesny in kleiner stukkies
  • 250 g sampioene, in die helfte gesny
  • 1 ui, opgesny
  • 1 e balsamiese asyn
  • 2 t Dijon-mosterd
  • 2 k beesaftreksel
  • 2-3 takkies vars roosmaryn
  • sout en peper, na smaak
  • olie
  • 2 e bruin uiesoppoeier, in bietjie water opgelos

Metode

  1. Gooi ʼn bietjie olie in ʼn pan en braai die vleis daarin totdat dit bruin is.
  2. Skep dan die vleis oor in die bodem van die prutpot; hou die gebruikte pan met die oortollige olie eenkant om dit later weer te gebruik.
  3. Plaas nou al jou opgesnyde groente en sampioene bo-op die vleis.
  4. Braai die uie in die pan waarin jy die vleis gebraai het.
  5. Voeg die balsamiese asyn, mosterd en beesaftreksel by die uie en meng alles goed.
  6. Gooi nou die sous bo-oor die vleis en groente in die prutpot en plaas die takkies roosmaryn bo-op die bredie.
  7. Sit die deksel van die prutpot op en kook die gereg op hoog vir 3 tot 4 ure, of op laag vir 7 tot 8 ure.
  8. Gooi die bruin uiesoppoeier bo-oor die gereg en laat dit vir nog ʼn uur in die prutpot kook voordat jy dit warm voorsit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.