Soorte resepte:

Resep-video: Bobotie vir twee

Bobotie vir twee. (Foto: Elsabé Erasmus/Maroela Media)

As jy nog nie planne vir Valentynsdag het nie, is hierdie resep dalk net wat jy nodig het om ʼn heerlike romantiese afspraak by die huis te reël. Die resep is nie ingewikkeld nie en dit is perfek as jy ʼn bietjie ekstra tyd saam met jou geliefde in die kombuis wil deurbring.

Sit die bobotie voor saam met rys, ʼn broodjie of selfs net ʼn lekker slaai en rond die ete af met ʼn glas wyn by kerslig.

Die resep maak genoeg bobotie vir twee blikbekers. Hieronder volg ook die hoeveelhede indien jy dit eerder vir die gesin in ʼn oondbak wil maak. Dit is genoeg vir sowat 6 mense.

Bestanddele

Maak die bobotie vir twee mense

VULSEL

  • 1 sny bruinbrood, korsies verwyder en in blokkies gesny
  • ¼ k melk
  • 20 ml olie
  • ¼ ui, fyngekap
  • ½ wortel, fyngerasper
  • 15 ml matige kerriepoeier
  • 350 g beesmaalvleis
  • 5 ml borrie
  • 15 ml blatjang (of fyn appelkooskonfyt)
  • ¼ k amandels, gerooster en fyngekap
  • ¼ k pitlose rosyne
  • 15 ml vars suurlemoensap
  • sout en vars gemaalde swartpeper

BOLAAG

  • 100 ml melk
  • 2 eiers
  • 2 lourierblare

Maak die bobotie vir jou gesin

VULSEL

  • 2 snye bruinbrood, korsies verwyder en in blokkies gesny
  • 125 ml melk
  • 45 ml olie
  • 1 ui, fyngekap
  • 2 wortels, fyngerasper
  • 30 ml matige kerriepoeier
  • 1 kg beesmaalvleis
  • 10 ml borrie
  • 30 ml blatjang (of fyn appelkooskonfyt)
  • ½ k amandels, gerooster en fyngekap
  • ½ k pitlose rosyne
  • 30 ml vars suurlemoensap
  • sout en vars gemaalde swartpeper

BOLAAG

  • 180 ml melk
  • 3 eiers
  • lourierblare

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C.
  2. Week die brood in die melk.
  3. Verhit die olie in ʼn pan en braai die ui, wortel en die helfte van die kerriepoeier daarin oor lae hitte, tot die ui sag is.
  4. Voeg die maalvleis by en braai tot dit gaar is.
  5. Voeg nou die ander helfte van die kerriepoeier saam met die borrie, konfyt, amandels, rosyne en suurlemoensap, asook sout en peper na smaak by.
  6. Roer goed en verhit tot kookpunt. Prut liggies vir ongeveer 10 minute.
  7. Voeg die brood met vloeistof waarin dit geweek het by en meng weer.
  8. Skep die bobotiemengsel in gesmeerde blikbekers (of ʼn gesmeerde oondbak) en maak dit gelyk met die agterkant van ʼn lepel.
  9. Klits die melk en eiers en giet dit oor die vleis.
  10. Druk die lourierblare in die vleis.
  11. Bak vir ongeveer 35 minute tot goudbruin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.