Soorte resepte:

[Resep] Visslaai

Visslaai (Foto: uit Diabetes deur Hilda Lategan, Lapa-uitgewers)

Die hele gesin sal heerlik eet aan hierdie slaai – ertjies en al!

Lewer 4 porsies

Bestanddele

  • 100 g gemengde slaaiblare, in kleiner stukkies geskeur
  • ½ Engelse komkommer, in blokkies of skyfies gesny (60 g)
  • 1 middelslag-appel, bv. Pink Lady, ontpit en in skyfies gesny (150 g)
  • ½ middelslag-ui, in dun skyfies gesny (50 g)
  • 12 kersietamaties, gehalveer (100 g)
  • 2 x 170 g-blikke tunastukke in pekelwater, gevlok (300 g gedreineer)
  • 100 g vars of bevrore groenertjies, met kookwater afgespoel
  • 40 g laevet-fetakaas, gekrummel
  • 75-100 ml Griekse lae-olie-slaaisous
  • gekapte vars kruie, soos vinkel, pietersielie en/of mentblare

Metode

  1. Rangskik die slaaiblare, skyfies komkommer, appel, ui, tamatiehelftes, tuna, ertjies en fetakaas op ʼn slaaibord.
  2. Drup van die slaaisous oor en strooi die gekapte kruie oor. Verkoel die visslaai goed voor opdiening.
  3. Dien dit op met ʼn volgraanbroodrolletjie of rol dit op in ʼn sagte tortilla.

Variasies

  • Vervang die tuna met enige ander koue gaar vis soos sardyne in tamatiesous, makriel, snoek of salm of gaar hoenderfilette vir ʼn hoenderslaai.
  • Vervang die komkommer met agurkies of ingemaakte kappertjiesaad.
  • Vervang die tamaties met ingemaakte pikante soetrissies of repies vars rooi soetrissie. Jy kan ook die soetrissie halveer, ontpit en liggies met olyfolie bespuit voordat dit 10 tot 15 minute by 200-220 ˚C gerooster word. Trek die velle af en sny die rissie in repies.

Uit: Diabetes deur Hilda Lategan, Lapa-uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.