Soorte resepte:

Resep: Weskus-braaibroodjie

Weskus-braaibroodjie (Foto: Jan Braai Burgers en Braaibroodjies)

Bokkoms is ’n eg Suid-Afrikaanse lekkerny – dink daaraan as visbiltong. Die son en die Suidooster werk saam om dié gesoute harders uit te droog. Bokkoms het daardie kenmerkende reuk van ’n idilliese vakansie aan die Weskus. Die Weskus sal nie die Weskus wees sonder bokkoms nie (en bokkoms sal ook nie bokkoms wees sonder die Weskus nie).

Bokkoms smaak veel makker as wat jy van die oordonderende reuk verwag en werk baie

lekker saam met die bestanddele van die resep. Jy koop bokkoms gewoonlik in bossies.

Jy het ’n halwe koppie fyngekapte bokkomvleis vir die resep nodig. Dit beteken jy moet omtrent 3 bokkoms vir ’n plaaslike kenner aan die Weskus gee om vir jou af te skil en die vleis van die grate weg te sny. Andersins kan jy skoongemaakte bokkoms koop (party supermarkte hou dit aan) en die bruikbare deel van die vleis self uitsny. Baie

supermarkte, viswinkels en padstalle verkoop pakkies bokkomfilette, wat beslis die maklikste is, want dan hoef jy dit net fyn te kap.

Lewer 6 braaibroodjies

Bestanddele

  • 12 snye brood
  • botter of olyfolie
  • 2 uie, gesny
  • 2 sopies balsamiese asyn
  • 1 houer songedroogde tamaties (200-300 g), vloeistof afgegooi en opgekap
  • ½ koppie bokkomvleis (omtrent 3 geskilde bokkoms met die grate uitgehaal), fyngekap
  • ½ koppie olywe (ontpit en opgekap)
  • ½ koppie dennepitte (omtrent 50 g)
  • 240 g mozzarella-kaas (gesny of gerasper)
  • gemaalde swartpeper

Metode

  1. Verhit olie of botter in ’n pan en braai die uie vir ’n paar minute totdat hulle kleur kry. Gooi die balsamiese asyn by en laat prut vir nog ’n paar minute totdat die uie gekaramelliseer, sag en klewerig is. Haal die pan van die hitte af.
  2. Bou die braaibroodjies: Botter of olie elke sny brood aan een kant (dis die kant wat na buite sal kyk wanneer jy die braaibroodjie aanmekaar gesit het).
  3. Sit die helfte van die snye brood op hul botterkante neer. Skep ʼn lagie taai, gekaramelliseerde uie op dié 6 snye, gevolg deur die opgekapte songedroogde tamaties, opgekapte bokkoms, olywe, dennepitte en kaas.
  4. Maal swartpeper oor en bedek met die oorblywende snye brood met die botterkante na bo.
  5. Braaibroodjies is draaibroodjies. Jy moet braaibroodjies gereeld omdraai en jy braai hulle in ’n toeknyprooster. As jy nie een het nie, koop een – verkieslik ’n verstelbare rooster sodat jy elke broodjie reg kan vasknyp.
  6. Jy wil matige hitte hê en die rooster moet redelik hoog bo die kole wees.
  7. Jou doelwit is om die kaas gesmelt en die res van die vulsel lekker warm te hê teen die tyd dat die buitekante goudbruin is. Om te keer dat die braaibroodjies vassit, help dit as jy die rooster telkens oop-en-toemaak ná die eerste paar kere se omdraai.
  8. Sodra die braaibroodjies reg is, sny jy elkeen in die helfte. Ek glo die regte manier om ’n braaibroodjie te sny, is diagonaal, en die regte tyd om dit te eet, is onmiddellik.

Resep: Jan Braai Braaibroodjies en burgers

Uitgewer: Human & Rousseau

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

koos10 ·

Waar kan ek bokkoms filette koop? Ek bly in Gauteng, maar het so ‘n maand terug in Kaapstad gesoek, en kon nie kry nie. Wie kan help? (Pretoria of Kaapstad)

Eend Bessinger ·

Google dit, selfs in Afrikaans. Stel net jou SETTINGS > LANGUAGES op om vir Afrikaans voorsiening te maak.

Eend Bessinger ·

Yum! Ek sal net baie spaarsamig met die sout en peper wees. Ek het ‘n paar braaibroodjies op vorige geleenthede geëet, maar nie verder as die eerste hap gekom nie, want jy proe net sout!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.