Soorte resepte:

Rooibos goed vir diabete

(Argieffoto)

Met meer as 4,5 miljoen Suid-Afrikaanse volwassenes wat met diabetes leef, is dit belangriker as ooit om gesonde eetgewoontes ’n prioriteit te maak.

Om met diabetes te leef beteken ʼn mens moet twee keer dink oor alles wat jy eet of drink omdat dit jou bloedsuikervlakke kan beïnvloed. Versoete drankies, soos gaskoeldrank met ʼn hoë suikerinhoud kan ʼn skerp styging in bloedsuiker veroorsaak, wat veral gevaarlik vir diabete is. Hulle is nie in staat is om die suiker te metaboliseer en hul bloedglukosevlakke doeltreffend te reguleer nie.

ʼn Oorsig van verskeie navorsingstudies deur die Harvard Universiteit het bevind dat diegene wat gereeld suikerdrankies drink – selfs net een of meer blikkies per dag – ʼn 26% verhoogde risiko vir tipe 2-diabetes het.

Prof. Christo Muller, hoofspesialiswetenskaplike by die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMRC), sê diabete moet hierdie soort drankies vermy of beperk, aangesien hulle maklik meer as ʼn maaltyd se suiker uit een drankie kan kry sonder om dit eers te besef.

“Die gebruik van te veel versoete drankies lei ook tot gewigstoename, wat weer die waarskynlikheid van diabetes verhoog. Geen- of laekalorie-drankies word eerder vir diabete aanbeveel om bloedsuikervlakke in toom te hou.

“Dit maak rooibostee ideaal aangesien dit kalorievry is en ʼn natuurlike soet smaak het wat beteken geen versoeters is nodig nie.”

Muller voeg by dat rooibos boonop aktiewe verbindings bevat wat kan help om bloedglukose te beheer, terwyl dit ook inflammasie verlaag.

“ʼn Unieke fenoliese verbinding wat net in die rooibos-plantspesies voorkom, genaamd aspalatien, kan ook help om bloedglukosevlakke te verbeter. Groen rooibos, wat meer aspalatien bevat, het in navorsing by diere getoon dat dit effektief is om verhoogde bloedglukosevlakke te verlaag. In hierdie navorsing het aspalatien insulienaktiwiteit verbeter deur inflammasie en oksidatiewe stres te verminder. Dit is albei faktore wat die ontwikkeling van tipe 2-diabetes en kardiovaskulêre siekte onderlê.”

“Rooibos beskerm ook die hart deur vaskulêre ontsteking en aterosklerose te onderdruk. Hoë bloedsuikervlakke kan probleme soos hierdie aanhelp,” verduidelik hy.

Dit is net so belangrik om ’n dieet te volg wat bloedglukose stabiel hou. Diegene wat aan tipe 2-diabetes ly, wat hoofsaaklik die gevolg is van swak dieet-leefstylkeuses, kan benewens medikasie, baie baat vind by ʼn goeie dieet en oefening.

Heleen Meyer, gewilde kookboekskrywer en gesondevoedselkonsultant, sê met ’n dieet wat ryk is aan polifenole (polyphenols) sal die meeste antioksidante wat in kos voorkom die liggaam help om suiker beter te metaboliseer.

“Dit sluit in die eet van helderkleurige vrugte en groente, neute, vis en die drink van rooibostee, wat alles propvol antioksidante is.

“Behalwe om die tee te drink, is daar talle maniere om rooibos deel van ʼn maaltyd te maak. Dink aan rooibos as ’n heeltemal natuurlike geur- en kookbestanddeel. Dit is ’n wonderlike kookvloeistof aangesien dit smaaklik en vol goedheid is. Rooibos is die perfekte plaasvervanger vir winkelaftreksel, wat dikwels baie hoog in sout, kunsmatige geurmiddels of preserveermiddels en selfs suiker is. Die geur van rooibos pas goed by soveel ander bestanddele, wat wissel van tamaties, gemmer, brandrissie, knoffel tot kruie en speserye, en kan vir ’n wye reeks resepte gebruik word. Voeg dit as ’n vloeistof by sop, bredies of selfs wanneer hoender of groente in die oond gebraai word.

“Dit is ook ’n heerlike basis vir ’n slaaisous, marinade of sous. Volgende keer as jy ’n tamatie-gebaseerde sous voorberei, voeg rooibos by in plaas van aftreksel. Balsamiese asyn of suurlemoensap en ’n bietjie olyfolie, in sterk, afgekoelde rooibostee geklits, is ’n heerlike slaaisous en kan gegeur word met vars kruie van jou keuse.”

Meyer sê rooibos is ook wonderlik om mee te bak en nageregte te maak. Melk of water in ’n bakresep kan dikwels vervang word met rooibostee, wat smaak en ʼn pragtige ryk kleur sal gee aan wat jy ook al maak.

Hier is twee van haar gunsteling-diabeet-vriendelike resepte wat rooibos insluit:

Hoender-en-rooibos-gebak. (Foto: Verskaf)

Hoender-en-rooibos-gebak

Rooibos-marinade

  • 250 ml (1 k) sterk rooibostee
  • 45 ml (3 e) olyfolie
  • 60 ml (¼ k) suurlemoensap
  • 60 ml (¼ k) balsamiese asyn
  • 15 ml (1 e) fyn gerasperde suurlemoenskil
  • 10 ml (2 tl) komynsaad of 15 ml (1 e) gemaalde komyn
  • 45 ml (3 e) vars tiemieblare

Hoender

  • 8-10 hoenderporsies, oortollige vet verwyder
  • 2 uie, in skywe gesny
  • 300 g blomkool, in blommetjies gesny
  • 200 g rosa-tamaties, heel
  • 6 klein murgpampoentjies, skuins in skywe gesny
  • 2 knoffelhuisies, in dun skywe gesny
  • sout en peper
  • ekstra vars tiemietakkies vir garnering

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C.
  2. Rooibos-marinade: Meng al die marinade-bestanddele saam. Hou ’n derde van die mengsel eenkant om as ’n slaaisous te dien.
  3. Hoender: Plaas die hoender en groente in ’n groot bak. Gooi die oorblywende marinade oor die hoender en groente, en meng goed om al die bestanddele te bedek. Geur na smaak.
  4. Skep die hoender en groente, saam met die marinade, in ’n enkellaag in ’n groot oondbak.
  5. Rooster vir 40-45 minute of tot die hoender goudbruin en gaar is, maar steeds sappig.
  6. Sit voor met ekstra vars tiemietakkies en ’n eenvoudige groenslaai. Geniet die slaai saam met die oorblywende marinade as ’n gesonde slaaisous.

Rooibos-en-aarbei-chai-poeding. (Foto: Verskaf)

Rooibos-en-aarbei-chai-poeding

Lewer 4 tot 6 prosies

Bestanddele

  • 3 rooibosteesakkies
  • 5 ml (1 t) vanieljegeursel
  • 10 ml (2 t) fyn gerasperde suurlemoenskil
  • 200 ml kookwater
  • 500 ml (2 k) gewone onversoete dubbelroomjogurt
  • 80 ml (⅓ k) chia-sade
  • 2,5 ml (½ t) gemaalde kaneel
  • 6-8 klein aarbeie
  • kruisementblare, geroosterde gevlokte amandels (sien wenke) en nog bessies om te versier

Metode

  1. Plaas teesakkies, vanielje en suurlemoenskil in ’n beker. Voeg kookwater by, roer deur en trek tot dit ’n sterk tee is. Laat dan heeltemal afkoel.
  2. Verwyder teesakkies en roer die afgekoelde, gegeurde tee by die jogurt. Voeg die chia-sade en kaneel by en meng goed.
  3. Skep die rooibosmengsel in individuele glase of opdienbakkies (sowat 160 ml per porsie). Laat stol vir sowat 30-45 minute in die yskas.
  4. Meng intussen die aarbeie om ’n puree te maak – moenie in die versoeking kom om suiker by te voeg nie.
  5. Skep net voor opdiening die aarbeipuree oor die chia-poedings. Garneer met kruisement, amandels en nog bessies.

Wenke:

  1. Die rooibostee kan ook met ’n kaneelstokkie gegeur word. Voeg by die teesakkies met die vanielje en verwyder voor jy by die jogurt roer.
  2. ’n Rooibostee wat natuurlik gegeur is, soos ʼn vanielje-, bessie- of ’n blom-opsie sal heerlik wees in hierdie nagereg.
  3. Rooster amandelvlokkies in ’n droë braaipan, sonder enige olie. Verhit oor medium temperatuur en rooster vir ’n paar minute of tot goudbruin. Wees versigtig want hulle kan redelik vinnig brand.
  4. Chia-sade is by meeste gesondheidswinkels en groot supermarkte beskikbaar.

“Of jy diabeet is of nie, hierdie heerlike somerpoeding is ’n moet-hê. Die natuurlike soetheid van rooibos is perfek as die hoofgeurkomponent in hierdie maklike poeding. Elke bestanddeel in hierdie resep is voedsaam en goed vir jou.

“As jy lus is vir iets soets, maar jou koolhidraat-inname moet bestuur, is hierdie resep ’n wenner. Danksy die rooibos en ander komplementerende, heeltemal natuurlike bestanddele is geen bygevoegde suiker nodig nie,” sê Meyer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.