Soorte resepte:

Wenke vir ’n lekker Braaidag

Môre is nasionale Erfenisdag, wat ook onder Suid-Afrikaners bekend staan as Braaidag.

Dit is ʼn dag wat Suid-Afrika en sy mense vier, ʼn dag van samesyn en eenheid waarop duisende mense oor die hele land bymekaar gaan kom rondom ʼn braaivleisvuur.

Die bekende aansteker-handelsmerk BIC bied vanjaar ʼn paar wenke vir ʼn lekker Braaidag:

Kies die regte plek

Die plek waar jou braai gehou word, is van uiterste belang. As jy nie genoeg ruimte by jou huis het om almal te akkommodeer nie, gebruik een van Suid-Afrika se pragtig parke, oorde of gemeenskaplike braaiplekke. ʼn Oop area in die natuur is perfek om jou gaste genoeg plek te gee om Braaidag behoorlik te geniet.

Fokus op die vuur

Die soort hout wat jy gebruik kan ʼn groot impak op jou braai-ervaring hê. Rooikranshout brand vinnig en maak fantastiese kole, terwyl wingerdstompe goed werk om ʼn vuur mee te begin en heerlike geur aan jou kos gee.

As dit een van die eerste vure is wat jy self moet aansteek, sal houtskool help om die proses makliker aan die gang te kry. Maak nie saak wat jy kies nie, moet net nie die vuuraanstekers vergeet nie.

Dink aan vleis … (of nie)

Suid-Afrika het ʼn verskeidenheid opsies vir vleis op die vuur, soos boerewors, skaaptjoppies, hoenderboudjies, snoek, ribbetjies en biefstuk, maar moenie vergeet van al die vegetariese opsies vir vriende wat dalk nie vleis eet nie.

Indien jy wel vleis eet, maak seker om dit vooraf te marineer en hou die verkillende braaitye vir verskillende vleissoorte in gedagte.

Bykos

Bykos is wat ʼn Suid-Afrikaanse braai so lekker maak. Laat jou gedagtes gaan en maak roosterkoek, braaibroodjies, mieliepap, aartappelgebak, koolslaai of enigiets anders wat jou hart begeer.

Jy kan selfs nagereg oor die vuur maak! Klik hier vir ʼn lekker Peppermint Crisp- “braaipie”-resep.

Drinkgoed

ʼn Braai is nie ʼn braai sonder ʼn paar drankies nie. Of jy nou alkohol drink of nie, ʼn paar verfrissende drankies is altyd welkom. Voel ook vry om jou gaste te vra om hul eie drankies te bring, maak net seker jy het genoeg ys!

Onthou die dag

Daar is min dae soos Braaidag, wanneer jy net met gemak kan terugsit in jou vriende en familie se geselskap. Neem dit in en sit jou selfoon en rekenaar af. Die enigste goeie rede om jou selfoon uit te haal is om ʼn foto te neem om die dag mee te onthou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.