Soorte resepte:

Waar kan mens lekker in Afrikaans eet?

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash/Alex Holyoake)

Soos almal weet, gaan eet lankal nie meer net oor eet nie – dit gaan oor samesyn, familietyd, vieringe en die mense wat saam met jou om die tafel sit. Daar is ook min dinge so lekker soos die geselsies wat om ʼn heerlike bord kos aangeknoop word – veral as dié geselsies in jou moedertaal kan plaasvind.

Daarom is Maroela Media op soek na restaurante, enige plek in Suid-Afrika, waar jy tuis voel in Afrikaans, met ʼn spyskaart in Afrikaans, en wat jou in Afrikaans bedien.

André Brink, ʼn oudjoernalis van Eversdal in Kaapstad met ʼn liefde vir Afrikaans, het met die idee vorendag gekom om ʼn lys van restaurante op te stel waar jy gemaklik Afrikaans kan praat.

Brink sê hy het opgelet dat baie restaurante nie die opsie van ʼn Afrikaanse spyskaart of diens het nie, en dat dit vir hom hartseer is.

“Ek het aan hierdie idee gedink veral omdat my kinders op Stellenbosch studeer het, en daar nou soveel moleste oor Afrikaans aan die gang is. En selfs daar is net hier en daar restaurante wat Afrikaanse spyskaarte het. As jy in Kaapstad ingaan en jy praat Afrikaans in ʼn restaurant, is dit kompleet of jy ʼn vreemde taal praat.”

Brink sê hy is nie kwaad daaroor nie, en wil nie baklei nie, maar dat hy graag van meer plekke wil weet waar hy in Afrikaans kan eet.

“Dit hoef ook nie restaurante wees wat eksklusief Afrikaans is nie, maar ook eetplekke wat tweetalige spyskaarte het of waar jy kan kies in watter taal jy bedien word.”

Hy sê Afrikaans is nie ʼn taal waaroor ʼn mens behoort skaam te wees nie. Hy lees ook graag in Afrikaans en meen as daar Afrikaanse instruksies op medisynebottels kan wees, daar maar Afrikaanse spyskaarte in eetplekke ook kan wees.

As jy weet van lekker eetplekke met ʼn Afrikaanse spyskaart en/of Afrikaanse diens, enige plek in Suid-Afrika, vul dit op die onderstaande vorm in. Laat weet ons ook as jy al mooi oorspronklike Afrikaanse name vir Engelse disse op dié spyskaarte teëgekom het. Ons sal na almal se voorstelle kyk en ʼn lys publiseer van restaurante waar jy gemaklik in jou eie taal kan uitspan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Willem ·

Baie dankie vir die een. Ek al so moeg om in Restaurant te hoor” Im Tokkelok may I bring you something to drink” dan wil ek sommer loop

Tanja ·

Buffelsfontein Beesboerdery BESTE Afrikaanse restaurant in Pretoria!!! Elke keer as ons van die Kaap na Pretoria reis gaan maak ons ń draai daar, nie net is alles in Afrikaans nie, die kos is heerlik, baie lekker Afrikaanse Boere kos, interredsante disse soos Bosveldslakke, Pap Skyfies, Pampoenkoekies en Roomys ens ens, HEERLIK!! Die diens en atmosfeer is uitsteekend. Ek gee Buffelsfontein Beesboerdery Restaurant 10uit10

Fritz ·

Die ergste is “land spesifieke” restaurante soos Italiaans, Portugees, ens. Maar dan weet jy voor jou siel die kelners kan nie n woord van taai taal praat nie. Ek wens ek kan n “Russiese” restaurant raakloop sodat ek die kelner in Russies kan groet.

JohanR ·

Wel die een ding wat ons weet is dat jy nie by US in Afrikaans kan eet nie. Pass the potatoes please Elizabeth!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.