Soorte resepte:

Wat maak Bakkies nou?

Die oud-Springbok Bakkies Botha het reeds sy rugbytokse opgehang, maar hy is beslis nie ledig nie … hy is deesdae uiters bedrywig om ’n handelsmerk in die kosbedryf uit te brei wat spruit uit ’n bynaam wat hy in Frankryk gekry het – The Butcher. En hy doen dit vir ’n goeie doel!

The Butcher, soos hy oorsee bekend geword het oor die manier wat hy spreekwoordelik “maalvleis” van sy teenstanders gemaak het, asook vir sy liefde vir goeie gehalte vleis eie aan Suid-Afrika, het onlangs kragte met Veld tot Vurk saamgesnoer om Bakkies the Butcher se Veld tot Vurk-speserye op die been te bring.

Bakkies vertel hy het in 2011, toe hy in Toulon in Frankryk rugby gespeel het, bekostigbare vleis gesoek wat gelykstaande is aan Suid-Afrikaanse gehalte. Hy kon dit nie daar kry nie en het besluit om sy eie boerewors te maak wat sy spanmaats se monde laat water het. Hy het sy eie boereworsresep bemeester en selfs die braaighoeroe, Jan Braai, het gaan inloer en was gaande daaroor – so ook Suid-Afrikaners wat terugverlang het na die land van groen en goud.

Met sy terugkeer uit Frankryk het Bakkies hom as boer in die Bosveld gevestig en ’n geleentheid gesien om goeie gehalte produkte te vervaardig. Deur sy Bakkies the Butcher-handelsmerk verder uit te brei, het Bakkies besluit om nog meer geur by die lewe te voeg en spog nou met sy eie speserye en binnekort ook geurmiddels, souse en kruie.

Wat maak Bakkies the Butcher se Veld tot Vurk-speserye so uniek?

“Dit is ’n goeie en gesonde produk van goeie gehalte, maar dit gaan nie net oor smaak nie, dit is ook ’n hartsaak!” sê Bakkies.

Bakkies is bekend vir sy onblusbare hart vir liefdadigheid en het daarom besluit dat sy reeks speserye nie net geur in mense se lewens moet bydra nie, maar ook die lewens van behoeftige kinders in Suid-Afrika moet verryk. As ambassadeur van Helpende Hand se #HelpJag-voedingskema het hy besluit om saam met die tydskrif Wild & Jag/Game & Hunt te werk om ’n verskil te maak deur ’n persentasie van die opbrengs uit elke produk aan #HelpJag te skenk. #HelpJag in samewerking met #StopHonger sorg tans dat 8 000 behoeftige kinders elke skooldag ’n gesonde bord kos kry.

“Die produkte word van hoë gehalte sout gemaak, bevat geen MSG of preserveermiddels nie en is 100% organies en trots Suid-Afrikaans. Net die beste is goed genoeg vir jou braai, potjie of kosdisse,” sê Bakkies.

Bakkies the Butcher se Veld tot Vurk-speseryreeks is tans in twee produkte beskikbaar – die Braai Mix-braaisout en All Purpose-sout vir die kombuis.

Die jagseisoen is dalk nou verby, maar daar is nooit ’n einde aan ’n goeie braai nie. Die Wêreldbeker-oorwinningsvure brand nog hoog en met die feesgety om die draai is dit nou die ideale tyd om aan te hou braai. Hierdie sout is die beste manier om geur by enige braai of maaltyd te voeg. Dit sal jou kos verryk en enige maaltyd verhoog tot ʼn standaard waartoe normale soute nie in staat is nie.

Die produk is boonop ook ’n goeie geskenk vir enige braailiefhebber of kok.

Te oordeel aan die gewildheid daarvan gaan dit net so ’n impak hê soos Bakkies in ’n losgemaal.

Die speserye is maar net die begin en daar is opwindende produkte wat binnekort saam op die rakke gaan pronk.  “Almal is lief vir braai en daarom stel ons die soute eerste bekend. Die souse en ander produkte sal binnekort volg,” sluit Bakkies af.

Bakkies benadruk dat hy nie sy eie winkel het waar die produkte verkoop word nie en dat kopers vir die produkte by uitgesoekte slaghuise, deli’s, biltongwinkels en kleinhandelaars landwyd moet uitkyk.

Hou Bakkies te Butcher op Facebook dop vir die jongste nuus en inligting oor meer produkte. Besoek die webwerf bakkiesthebutcher.co.za vir ’n lys van winkels waar jy die produkte kan aankoop en om ’n voorsmakie te kry van dit wat kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.