Soorte resepte:

Ystervarkslagtery met ’n paar stertjies

Foto: Pixabay.com

Foto: Pixabay.com

So ’n twintig-plus jare terug het ons by vriende naby Delmas gekuier toe die seuns die aand ’n ystervark in die ertjieland geskiet het. Gedagtig aan die dae toe ek as seuntjie saam met die plaasvolk gebraaide rietrot geëet het, het ek terstond gevra of ek nie maar die ystervark kon kry om te slag nie. So het ek toe die ding gekry en my eerste ystervark geslag. Dit was toe maar ’n sleg affêre, want ek was onkundig en die gedierte het gewemel van bosluise en vlooie.

Toe die karkas, ná ’n lang gesukkel, met niemand wat wou help nie, gehang het, het ek besluit dit was my eerste en laaste poging. Om salf aan die steekwonde te smeer, het die vleis nogal nie te onaardig gesmaak nie en die hele spul is opgeëet. Ek weet nou nog nie of dit uit simpatie of ordentlikheid van my huismense was nie.

Nou die ander dag kom goeie vriend Salmon de Swardt hier by my aan en vertel dat hy kort-kort ystervarke moet vang en skiet. Hy vertel toe verder hoe die skade wat hulle ’n man berokken, hom bankrot kan maak. Dis toe net daar waar die dapperheid my oorval en ek vra toe vir hom of ek die volgende een kon kry. Die vorige ervaring sou die slagtery darem so ’n bietjie makliker maak, het ek geredeneer.

Net die volgende dag kom hy toe hier aangery met ’n bielie van ’n ystervark met ’n netjiese kopskoot, gereed om geslag te word. My ou Helpertjie het vinnig ander dringende werk uitgedink en aangepak en toe’s dit ek en die ystervark. Genadiglik was daar nie ’n enkele bosluis of vlooi sigbaar nie. Nou moet jy weet! Niemand het my geleer hoe om ystervark af te slag nie. Ek het op die harde manier geleer en as jy wil weet hoe seer die penne steek, vra maar vir my. Ek het begin deur die meeste bruikbare penne uit te trek. Mense maak mos allerhande mooi goetertjies met die penne vir ’n ou ekstra geldjie. Nadat die lang penne uitgetrek is, was daar nog, ek kan nou nie sê miljoene nie, maar derduisende penne en pennetjies oor. Sulke langeriges en sulke kortetjies omtrent soos hare op ’n hond se rug.

Ek het my mes geslyp en toe die slagding netjies op die rug laat lê en besluit om eers die pootjies af te sny. Dit was nogal ’n aardige gevoel, want met die pootjie in die hand het dit alte veel gevoel soos ’n bobbejaan wat jy geskiet het se hand in jou hand. Die afslaggery het goed afgeloop tot ek by die gesogte rugvel gekom het. Ek het agtergekom dat ’n dik vleislaag aan die rugvel nie deel van die karkas was nie. Dit het die afslaggery aansienlik vergemaklik, maar ’n rukkie later het dit geblyk dat ek tog so ’n bietjie onkundig was.

Die plaaswerker het die gesukkel so staan en bekyk en toe kon hy dit nie langer hou nie: “Nee, nou mors Oubaas mos met die vark se vel!” Ja, hy noem my so, sonder dat hy aangesê is. “Oubaas moet mos al die penne uittrek, dan kookwater oor hom gooi en dan krap jy hom soos jy ’n mak vark krap. Die vel is mos eenklik die lekkerte van die ystervark!” Nou ja, die skade was gedaan en Jan het die vel gekry.

Wat hy met hom gedoen het, weet ek nie, maar hy het kom sê dat ek die volgende vel maar weer na sy kant toe kan laat kom.

Die oopsny van die buikholte het glad verloop – maar soos met enige ander slagdier. ’n Snoeiskêr was ideaal om die bors- en ysbeen deur te knip. Anders as wat ek verwag het, was daar nie die tipiese varkreuk toe die buikholte oopgesny is nie. Dit was nader aan die skaap- of beesgeur wat in die lug gehang het.

Die binnegoed is toe netjies uitgeslag en ek het die karkassie opgehang om in boudjies en bladjies opgesny te word. So teen die blou lug het hy goed gelyk, en die mooi rooi vleis het getoon dat ystervark nie aan vark verbonde is nie! Ek het ribbetjies uitgehou en die res netjies verpak om gevries te word. Dis nou nie dat ek my eie stert wil prys nie (niemand anders sou dit in elk geval wou doen nie) maar die ou joppie het ’n knipoog en ’n klop op die skouer verdien.

Ek het Jan se raad gevolg en die ribbetjies eers vir ’n paar uur in asynwater, om die “willigheid yt hom yt te kry”, laat lê en toe opgehang om winddroog te raak. Nadat ek die vleisies met die nodige megheftertjies reggesien het, het die rooipitjiekole die res gedoen. Sonder ’n ou wyntjie om die lekkerte aan te wakker, het ons die ribbetjies afgeëet totdat hulle witbleek in die borde bly lê het.

So ’n dag of wat later het ons die nek en rugstring, net soos skaapnek, op onse gewone manier in die prutpot gaargemaak en toe saam met vars groente geniet.

’n Mens moet maar met hom maak soos jy met wildsvleis maak.

As ek reg onthou, het donkiejare terug se duikervleis min of meer dieselfde gesmaak en nou kan ek onthou dat nie almal van die smaak van duikervleis gehou het nie. Vir ons was en is dit ’n lekkerte wat nie te versmaai is nie.

Intussen is die volgende een al geslag en halfpad opgeëet, en solank vriend Salmon sy groente-oes  moet beskerm, sal ek my geldjie vir vleis kan rek. My slagmes is geslyp. So sal ek ons vrieskasinhoud aanvul en môre, oormôre as die neusoptrekkers nie bees en skaap kan bekostig nie, kan hulle maar by ons kom eet. Net nou die dag het my ou Kosmakertjie ’n besonderse vleisgereg voorgesit en nie ’n lekseltjie het oorgebly nie. Niemand sou kon droom nie …

Daar’s twee stertjies wat ek nou by die slagstorie wil aanlas. Ons het voor ’n vergadering buite staan en gesels. ’n Mens moet eintlik vir vriend Salmon en sy manier ken om die stukkie te waardeer en daar’s mos partykeer ’n gesprek of opmerking wat jy nie wil vergeet nie. Hy’s ’n man wat ’n ding so eerlik, opreg, mooi en raak kan sê. Dis toe ek hom inlig hoe ek tydens die slagtery onder die ystervark se penne deurgeloop het, dat hy doodernstig die volgende te vertel het: “Wee’ jy Oosie, hoe waar dit is, weet ek nou nie, maar hulle sê mos die penne het sukke fyn weerhakies. Oosie, en weet jy wat sê hulle nog? Hulle sê daai hakies is so klein dat dokters hulle gebruik om senuwees te haak as hulle opereer. Of dit waar is, weet ek nie, maar kan jy nou vir jou indink … Die wonder van die skepping darem maar …”

Ons het vir ’n wyle stilswyend gedink en gewonder oor die wonder van die skepping. Dis toe dat die volgende juweelgesprekkie gevolg het; die soort van gesprekkie wat jou in prentjies laat dink: “Maar nou’s daar ’n ding waaroor ek al baie gewonder het. Dis nou seker nie ’n ding waaroor mense praat nie,” het hy, diepdenkend, weggeval. Ek het hom nuuskierig kans gegee om te praat en toe kom dit: “Jong, ek wonder maar net.” Amper gewyde stilte en met sy kop so skuins gedraai … “Hoe paar die goed?” En daar staan ons vir mekaar en kyk. Hy met ’n ondeunde glimlaggie en ek so ’n bietjie onkant betrap … Ons het albei staan en wonder.

“Jong, as skilpaaie kan, kan ystervarke seker ok!” het ek hardop gedink en toe’t ek bygevoeg dat ek sou dink dat hulle hulle nie laat aanjaag nie en tydsaam en baie versigtig te werk gaan. Ons het so ’n paar laggies uitgekug en my ou buurman het die laaste sê gehad: “En nog ’n ding, Oosie, wee’ jy, hoe meer ek vang, hoe meer word hulle. Ek vang nou al twee, drie op ’n slag!” Daar was so ’n indringendheid, amper driftigheid, in sy stem. “Hulle sê mos daar’s goed wat vinniger aanteel as hulle bedreig word!” Nogeens was ons in verwondering oor die natuur.

Ons indiepte-gesprek, ter wille van oorlewing en dié soort ding, is ontydig onderbreek en kortgeknip toe van binne af geroep is omdat die vergadering alreeds aan die gang was.

Laat weet as julle kom kuier! My ou Meesterkokkie sal ’n ystervark-herderspastei of ’n lekker kerriegereg met lekker bykossies voorsit en wie weet, dalk braai ek vir jou ’n ystervarkworsie, met varkspekblokkies in, terwyl die son sak. En wanneer die wintertjie toeslaan, kan ons dan ’n lekker ou soetetjie uit my bosbokhoring-“wynglas” laat val waar hy wil. Dit beloof ek jou: Ek sal nooit vir jou jakkals en rooikat of bobbejaan voorsit nie. Ok nie likkewaan en pofadder nie.

Miskien ’n dassie, maar gelukkig is hier nie dassies nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Wilsie

Wat ‘n pragtige storie. Ek was in 2005 saam met my swaer in Alldays om te jag. Die wildsboer het ystervarkpenne aan die Amerikaners aangebied teen $10 elk. Dit was daai tyd R6/$. Miskien moet jy ook die penne te koop aanbied.

John

Johan, ek is kwaad vir jou en die boere. Het jy nie genoeg kos om te eet nie? Jy klink soos ‘n Japannees wat ‘n walvis slag. Die boere… ja die arme boere… hulle aanbid nou al die gm-Amerikaners en skiet wolke vir reen, spuit gif om graan te droog, maar hul kla en kla oor alles wat leef op hul grond. Hier gaan net soveel wilde diere oorbly in Suid-Afrika as wat daar jakkalse in Engeland is. Uiteindelik sal die boere ook uitgeroei word deur die mynbase, dan sal hulle lang trane huil oor hul geboortegrond… en die wild,… Lees meer »

Helene Heyns

Het ek nou hierdie storie geniet. Dit was interssant, dankie

Bloues

John….is jy ernstig? Nee man wees eerlik nou, is jy rerig ernstig?

A3

Die storie was nou wel interresant maar wreed – dit is soos die hasies wat uitgeroei is – ons kan nie als wat ons pla doodmaak nie – die natuur en die diertjies was eerste daar en hulle het net soveel reg om te lewe – ons het dieselfde probleme met ape hier en jy moet net leer om saam hulle te leef en sorg dat jou vensters toe is en nie kos oop en bloot op jou tafels laat rondlê nie – so wat ek probeer sê is probeer ander alternatiewe en miskien werk dit