‘Beginselvaste regskenner’ nuwe streekbestuurder by TLU

Andries Raath, TLU SA, Vrystaat

Prof. Andries Raath. (Foto: TLU/SA)

TLU SA se Vrystaatstreek spog met ʼn nuwe bestuurder.

Prof. Andries Raath, ook emeritus professor in publiekreg aan die Universiteit van die Vrystaat, sal buiten die verantwoordelikhede van streekbestuurder sy kennis en ondervinding breër in die onderskeie komitees aanwend. Hy sal TLU SA se beleid en standpunte help belyn om die landbou-omgewing op ʼn gesonder grondslag te vestig.

Raath se ondervinding in die regswêreld word hoog aangeskryf en gerespekteer, sê Bennie van Zyl, TLU SA se hoofbestuurder.

Nie net TLU SA nie, maar ook dié organisasies wat met hom saamwerk, sal baat by Raath se kundigheid as senior professor in administratiewe en konstitusionele reg met betrekking tot wetgewing van toepassing op polisiëring, onteiening en die impak van wetgewing op die verskillende terreine van landbou in Suid-Afrika.

Raath het in sy loopbaan reeds verskeie publikasies die lig laat sien.

Hy het besluit om by TLU SA aan te sluit omdat landbou uiters belangrik is en daar gefokus moet word op werkbare beleidsrigtings.

Raath verbind hom ook onbeskaamd aan TLU SA se etos en karakter wat fokus op God Drie-enig.

“Indien ʼn instansie nie sy toekoms op hierdie grondslag bou nie, is alle pogings nutteloos en van geen waarde vir die toekoms nie. Landbou is te belangrik dat daar woer-woer gespeel kan word met nie-werkbare beleidsrigtings en daarom is dit noodsaaklik dat daardie aspekte wat Suid-Afrika oor dertig jaar heen wanfunksioneel gemaak het, reggestel moet word,” sê Raath.

Raath sal op 27 Mei sy amp opneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.