Aanslag op diereproteïne verskerp

  • Wild floreer onder die trofeejagbedryf. (Foto: Maroela Media)

    In dié artikel, een van drie in ʼn reeks, waarsku dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai en president van die Wêreldlandbouorganisasie, oor die gevare wat diereregte-aktiviste vir landbou inhou.

Nog nooit in die geskiedenis was die verhouding tussen mens en dier onder soveel druk soos nou nie. Na afloop van die VN se voedselstelsels-beraad in September 2021 is dit duidelik dat diereregtegroepe, anti-diereproteïne-aktiviste en ’n ongesonde konsentrasie van kapitaal, groot ambisie het om temas soos spesiesisme, en spesifiek die magsverhouding tussen mense en diere, met nuwe vuur op die internasionale agenda te plaas.

Hierdie druk word vergestalt in politieke resolusies en bewegings in die VN, Europese Unie en verskeie multilaterale forums, in kommunikasie-aanslae in die konvensionele- en sosiale media, deur ’n swetterjoel rolprente en dokumentêre programme en veral deur internasionale veldtogte wat oënskynlik niks met mekaar verband hou nie, maar alles in dieselfde rigting stuur. Hulle wil ons dwing om te herbesin oor diere en veral vee.

Dit gaan oor veldtogte teen trofeejag, dierewelsyn, hokke en ander beperkings op beweging, batteryboerdery, kunsmatige inseminasie, die skeiding van moeders en hul aanwas, diergebaseerde proteïene soos vleis, suiwel en eiers, en inderdaad teen die idee om met vee te boer.

My eerste ervaring van hierdie beweging was in 2017 in Brussel toe die Europese jagtersvereniging die Wêreldlandbouorganisasie se hulp kom vra het om teen ’n Britse resolusie in die EU wal te gooi. Ek was stomgeslaan toe sir David Amess, ’n Britse Konserwatiewe Party-parlementslid, vra vir die verbod op trofeejag en sanksies teen lande wat nie daarby inval nie. Sy argument was dat die mensdom ontwikkel het tot ’n beskawingspeil waar daar geen verdere morele begronding vir trofeejag oorbly nie.

Toenemende regulasies, soos ingewikkelde naspeurbaarheidstelsels, plaas al hoe meer druk op die vleisbedryf. (Foto: Maroela Media)

Net soos wat slawerny in die vroeë 1800’s, na soveel duisende jare wêreldwyd, binne twee of drie dekades uitgeroei is en vir dieselfde redes, voer die #bantrophyhunting-veldtog aan, het die tyd aangebreek om ’n streep deur trofeejag te trek.

Die narratief, die verpakking van die kommunikasie en die wye steun van bekendes, sport- en rolprentsterre, koninklikes en wêreldleiers is uiters emosioneel en val sag op die oor.

Dat trofeejag oor die afgelope vier dekades waarskynlik meer spesies, soos die swartwitpens en bastergemsbok van gewisse uitwissing gered het, word nêrens in die debat gehoor nie.

Die een stem wat in al die geraas wegraak is ongelukkig die stem van die wetenskap. Dit is ʼn feit dat wildboere verantwoordelik is vir die doeltreffendste bewaringspraktyke op die planeet. Daar is egter hoegenaamd geen waardering of erkenning dat hulle altyd nog beter met wild sal teel en so ’n spesie se voortbestaan sal verseker, vanweë die kommersiële waarde wat ’n trofeedier in die jagveld het nie.

Die grootste enkele drukpunt in die EU se gemeenskaplike beleid oor landbou gaan oor dierewelsyn.

Argumente teen diere-proteïne raak al hoe feller tydens die Verenigde Nasies se debatte. (Argieffoto)

Hoewel ek nog nooit ’n veeboer ontmoet het wat onverskillig teenoor sy diere se welsyn of welstand staan nie, is die demonisering van veeboere daaroor in die globale Noorde ontstellend. Dit begin altyd by akkommodasievereistes en -regulasies, ongeag die koste-implikasies. Van hokke en krale, skuif dit na gesondheidsorg en -sanitasie, roetine, voedingstegnologie, dieregemak en hulle interaksie met ander vee. Dit is by uitstek die groen partye in die EU wat meedoënloos veg vir die soort naspeurbaarheid waardeur die verbruiker, deur blokketting en QR-kodes in die supermark, al die fyn besonderhede van die produksieproses moet kan volg.

Veeboere is nie ongeneë nie. Daar is by hulle geen weerstand om dierewelsyn tot immer hoër standaarde te dryf nie. Wat in gedagte gehou moet word, is dat die verbruiker daarvoor moet betaal en derhalwe sal die mark die brieke aandraai.

Die probleem is dat elke dierewelsyndebat tot dusvêr uitrafel in ’n gestryery oor dieregemak en dieregeluk en dan ontaard in diereregte en veral die reg om te lewe en nie opgeëet te word nie.

  • In ʼn volgende artikel sal die inhoud van ʼn aantal veldtogte wat goed gefinansier en fyn georganiseer is om ʼn herbesinning van veeboerdery te weeg te bring, onder die loep geneem word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

casper ·

Stem saam.
Die wilds boere is die beste mense om te verseker dat spesies oorlewe en floreer!!

Anoniem ·

Korrek, die “sir” weet seker nie dat wild sal uitsterf tot dieretuin vlak wanneer dit nie meer kommersiële waarde het nie.

Wilhelm ·

Kyk maar na die dokumentêr ‘Game Changers’ op Netflix, die grootste klomp twak word vir die waarheid vertel om jou te oortuig om ‘n vegan te wees.
Die geld en die direkteur agter Game Changes, is James Cameron, wat ‘n maatskappy besit wat vegan kos vervaardig.
Met ander woorde… die groot dryf agter al die mooi praatjies van die vegan veldtog, is geld.

VaalDonkie ·

Vleis maak jou gesond. Mens kannie net op plante floreer nie. Ja jy kan oukei aankarring met groente en vrugte, maar jy het diere-proteine nodig as jy nie tengerig en sieklik wil wees nie.

Witbaard ·

Hierdie mense kry te veel aandag. EET MEER VLEIS. As jy nie saamstem met dit wat in die vleisbedryf aangaan nie, eet KOOL en los die res uit

Micheal ·

Een van die dae gaan ons ook nie mag gras sny nie want hulle gaan honger raak as hulle die gras ruik

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.