Aansoekproses vir watergebruikerslisensies nou bespoedig

Foto ter illustrasie (Foto: Wasant Ritthawon, Pixabay)

Boere hoef nou nie meer die lang pad na Pretoria aan te durf om vir watergebruiklisensies aansoek te doen nie. Die departement van water en sanitasie (DWS) het die kritieke delegering van magte om aansoeke vir watergebruikslisensies na sy streekskantore afgewentel. Agri SA het aangedui dat hulle die implementering hiervan verwelkom.

Hierdie maatreël is op 16 Februarie 2021 deur die waarnemende Direkteur-Generaal van die DWS, Deborah Mochotlhi, afgeteken.

“Dit is een van die sleutel-strategiese maatreëls om die spertye vir die afhandeling van aansoeke vir watergebruikslisensies van 300 na 90 dae te bespoedig,” sê Janse Rabie, hoof van Agri SA se Sentrum vir Uitnemendheid: Natuurlike Hulpbronne.

“Die delegering maak voorsiening vir laerisiko- en laevolume-aansoeke vir watergebruikslisensies om by die onderskeie streekskantore van die DWS afgehandel te word in plaas van slegs in Pretoria. Aansoeke van nasionale belang en wat ’n hoë risiko vir waterhulpbronne inhou, sal steeds deur die DWS se hoofkantoor hanteer word.”

Die bespoediging van watergebruik-lisensiëringsprosesse is geïdentifiseer as ʼn kernvoorwaarde vir sleutel-hervorming met die oog op die bevordering van ekonomiese groei in Suid-Afrika. Die DWS se delegering van magte was noodsaaklik in dié verband.

“Agri SA verwelkom hierdie stap deur die DWS vir die bespoediging van die watergebruik-lisensiëringsproses,” sê Rabie. “Ons hoop dat die landbousektor, as grootste gebruiker van Suid-Afrika se waterhulpbronne, baat sal vind by hierdie verwikkeling. Ons wil ook graag die Suid-Afrikaanse Assosiasie van Watergebruikersverenigings gelukwens en veral Nic Knoetze bedank vir die waardevolle werk wat oor die afgelope twee jaar in dié verband gedoen is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.