Africa Agri Tech wil landboudruk verlig

Africa Agri Tech beloof om vanjaar weer ‘n belewenis vir alle belanghebbendes in die landbou te wees. (Foto: Facebook/Africa Agri Tech)

Boere gaan verras word met die nuutste tegnologie en wetenskaplike toepassings in die landbou by Africa Agri Tech (AAT) se jaarlikse konferensie en ekspo. Dié geleentheid word vanaf 14 tot 16 Maart in die SunBet-arena by Time Square in Menlyn Maine in Pretoria aangebied.

Belanghebbendes in die landbou sal ook die geleentheid kry om met bedryfsleiers, besluitnemers en boere skouers te skuur en saam te gesels oor hoe plaaslike en internasionale uitdagings bestuur en opgelos kan word.

“Besoekers kan uitsien na drie dae van begeestering, nuutskeppings en bande bou, terwyl die bedryf saamkom om die toenemende voordele van tegnologie en wetenskaplike vordering in landbou te verken, plaaslik én internasionaal,” sê Pula Dippenaar, skoudirekteur van Africa Agri Tech.

Sy sê landbou in Suidelike Afrika trotseer tans verskeie uitdagings en daarom wil AAT ʼn platform skep waar die positiewe trefkrag van wetenskap, tegnologie en nuutskeppings ontgin kan word.

Verskeie kenners in moderne landbou sal voorleggings doen oor uiteenlopende onderwerpe in omvattende konferensiegesprekke. Die sessies word aangebied deur Aki Anastasiou en Gary Alfonso, bekende mediapersoonlikhede.

Naas die lesings en uitstallings gaan AAT verskeie ander sessies en aktiwiteite aanbied wat talle bykomende voordele aan uitstallers en besoekers sal bied. Dit sluit ʼn geleentheid in vir vroue in die landbou, ʼn nuutskeppingsuitdaging, voorleggings oor waagkapitaal, ʼn buitelandse handelsaal, landbou-merietetoekennings, middagete in die SA Landbou-heldesaal, sakepasmaats en toegang tot ʼn mediasentrum.

Die temas vir die drie dae is onderskeidelik landboutegnologie om produsente te bemagtig, vooruitgang in biotegnologie om Afrika se voedselprobleme op te los en toekomstige kragte met ʼn uitwerking op landbou-ondernemings.

Tydens die geleentheid sal boere ook inligting kry oor internasionale handel in landbougoedere, marktoegang en die beste landboupraktyke wêreldwyd.

“Die landbou is nie net daarmee gemoeid om by te dra tot voedselsekerheid in Suidelike Afrika nie, maar speel ook ʼn deurslaggewende rol in verskeie ander bedrywe soos tekstiel, drank, leer, mediese aanvullings en ander bedrywe wat van die landbou afhanklik is,” sê Dippenaar.

“Die eerste AAT is in 2020 aangebied en was ʼn groot sukses vir uitstallers én besoekers. Gevolglik bou die organiseerders van vanjaar se geleentheid voort op ʼn stewige fondament.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vonny ·

Great idee.
So kan boere meer en meer tegnologie inspan.
Veiliger!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.