Agbiz hou koers deur die storm

Francois Strydom, voorsitter van die Landbousakekamer (Agbiz) sê die privaatsektor funksioneer ver bo sy vermoë. (Foto: Du Preez de Villiers)

Sterk kritiek teenoor die verval van Suid-Afrika is deur die voorsitter van die Landbousakekamer (Agbiz) tydens sy kongres by Sun City uitgespreek.

Francois Strydom het dit onomwonde gestel dat die landbou boonop siek en sat is om nie gerespekteer te word nie, terwyl dié sakesektor steeds hul kant bring. Sy boodskap teenoor landbouondernemings was steeds ʼn oproep om alles in te sit om van Suid-Afrika ʼn sukses te maak.

“Dit is nou ʼn baie belangrike tyd in Suid-Afrika, ná die pandemie en te midde van ʼn oorlogkrisis waarin ons ʼn geweldige agterstand in ons voorsieningskettings ervaar. Vir alle praktiese doeleindes is ons ekonomie, infrastruktuur en staatsinstansies deur korrupsie en onbevoegdheid vernietig en dit word daadwerklik aan ons lywe gevoel.

“Dit was wel die private sektor wat Suid-Afrika deur hierdie moeilike tyd dra.”

Sy bemoedigende boodskap was dat daar wel ʼn lig in die tonnel is. “Ons het sterker geword en dit is veral die landbou wat ver bo sy vermoë gefunksioneer het.”

Hy sê Suid-Afrika moet wel ophou om verskonings daarvoor te maak en die probleem in die oë kyk en aanpak.

“Ons moet ons nie deur politieke speletjies van stryk laat bring nie.

“Agbiz is en sal altyd polities neutraal bly en probeer om risiko en versperrings uit die weg te ruim, deur goed nagevorste en wetenskaplike gefundeerde ondersteuning aan ons lede.

“As jy vandag moet vra wie gaan die mees invloedryke mense oor die volgende paar jaar wees, moet my en jou name op daardie lys wees.

“Ons is uitgedaag deur ons omgewing, maar ons is toegerus, want as mense met goeie bedoelings wat hard werk en gefokus saamwerk, sal ons wen. Ons word deur die omgewing uitgedaag, maar die krag van toegewyde verbintenisse is onbeperk.”

Hy sê Agbiz se lede verteenwoordig die produksie van 70% van alle voedsel- en veselproduksie in Suid-Afrika, asook produkte ter waarde van $12 miljard wat uitgevoer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.