Agra se Outjo-handelstak afgestof

Agra se nuwe tak in Outjo, Namibië. (Foto: Verskaf)

Agra is in die proses om die opvatting dat hy maar net nóg ʼn koöperasie is, uit die weg te ruim. Hierdie landboukleinhandelaar het takke oor die hele Namibië en is tans besig om hulle te vergroot en op te knap.

Die nuwe en verbeterde Outjo-tak is onlangs ook amptelik heropen en in dié nuwe gebou word daar ʼn wyer reeks produkte aangebied. Daar word gefokus op tuinbou, gereedskap, voer, klipsout, growwe sout, kruideniersware en ʼn Safari Den vir dié wat geesdriftig is oor die buitelewe.

Die ontwikkeling bestaan ​​nou uit ʼn kleinhandeltak van 1 158 m2 met ʼn oop verdieping van 231 m2 wat op die res van die winkel afkyk. Dit vervang die oorspronklike winkel van 394 m2. Die tak spog ook met ʼn nuwe voerskuur van 803 m2 en ʼn bykomende pakhuis wat 567 m2 beslaan. Verder is daar ʼn soutskuur wat 132 m2 groot is en ʼn dak van 150 m2     . waaronder behoueringskratte geberg word. Die ontwikkeling het meer as N$18,7 miljoen beloop.

Henning Tiemann, Agra se hoofbestuurder van eiendomme, sê in enige ontwikkelende land is dit noodsaaklik dat die grootste ondernemings terugploeg in die plaaslike ekonomie. “Dit is nie net om die mikro-ekonomie op gemeenskapsvlak te stimuleer nie, maar ook om toegang tot noodsaaklike produkte en dienste in landelike gebiede te voorsien.

“Agra glo in Namibië, ons glo in landbou en ons wil graag wys dat ons in die groter gemeenskap op ʼn baksteen- en sement-vlak belê.”

Saam met die herbekendstelling is afslagpryse gebied en pryse aan die Outjo-gemeenskap uitgeloof, asook ʼn geleentheid vir kliënte om met verskaffers en Agra-personeel skouers te skuur.

 

Agra se hoofbestuur wat die bekendstelling bygewoon het, is Graeme Schaefer, waarnemende algemene bestuur: Kleinhandel en Groothandel; Coenie Potgieter, bestuurder: Agra Eiendomme; Arnold Klein, Agra uitvoerende hoof; Flip de Bruyn, algemene Bestuurder: Finansies en Tobie Barlow, bedryfsbestuurder: Kleinhandel en Groothandel, (Foto: Verskaf)

 

Paul Freyer, Agra Outjo se takbestuurder, het vir Maroela Media gesê die distrik wat Outjo bedien, strek wyd. “Ons bedien basies die suidoostelike deel van die Kunene-streek, tot by Etosha in die noordooste en Kamanjab in die noordweste en die belangrikste boerdery-aktiwiteite is beesboerdery en die vervaardiging van houtskool.”

Hy sê ook dat die vooruitsigte vir reën in dié gebied vir die komende seisoen baie goed lyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

maloera ·

Outjo is gelukkig nie te ver van Pretoria-oos landbou hoewes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.