Alternatiewe landbouplan op pad

Gerhard Papenfus, uitvoerende hoof van NEASA; dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai en Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA het tydens ‘n mediakonferensie onthul dat hulle ‘n alteratiewe landboumeesterplan gaan opstel.

Na misnoeë uit verskeie oorde oor die Landboumeesterplan (AAMP) wat voorverlede maand afgeteken is, het vier organisasies vandag aangekondig dat hulle aan ʼn alternatiewe plan gaan werk wat meer inklusief is.

Volgens Saai, TLU SA, Neasa (Nasionale Werkgewersorganisasie van Suid-Afrika) en die LWO (Landbouwerkgewersorganisasie) is hulle, asook verskeie belangrike rolspelers in landbou, glad nie genooi om insette te lewer nie, of hul insette is bloot van die tafel gevee.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê sy organisasie is genooi en het breedvoerige insette ingedien, maar is toe later nie meer genooi om die werkswinkels by te woon nie. “Ons het net skielik gehoor die AAMP is afgeteken en dit drie dae voor ons nog navrae gerig het vir terugvoer oor ons insette en betrokkenheid. Ons hoor gerugte dat ons uit die proses geklim het; dit is nie waar nie.”

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, het vir Maroela Media gesê verskeie opposisiepartye, landboubedryfsorganisasies, plaaslike, distrik- en provinsiale landbou-unies is nie genooi om deel te neem aan die opstel van die Landboumeesterplan van die staat, Landbousakekamer (Agbiz) en Agri SA nie.

Daar is ook groot kommer uitgespreek dat vakbonde se insette geïnkorporeer is en geloof is vir hul bydrae, terwyl hulle, soos tydens die Kirkwood-onluste, ʼn verlammende uitwerking op landbou het.

‘Boere skep werk in landelike omgewings, vakbonde nie,’ sê De Jager.

In ʼn mediakonferensie het die eersgenoemde vier organisasies aangekondig dat hulle almal wat uitgesluit is, gaan nooi, asook diegene wat die AAMP onderteken het, om hul insette te lewer om ʼn alternatiewe meesterplan op te stel.

De Jager het dit benadruk dat daar uitstekende dele in die AAMP is, “maar as jy deur die plan lees, kom jy agter dat dit nie veel vir boere inhou nie. Dit moes deur boere gedryf gewees het en ons kan nie nou na boere gaan en sê dat hulle opgewonde oor die plan moet wees nie.”

Hy sê hy is wel beïndruk met die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) se navorsing en die akkurate data wat hulle na die tafel gebring het.

Die elemente in die huidige meesterplan waarmee die vier organisasies saamstem, is die ses pilare wat geïdentifiseer is, naamlik:

  • Om beleidsonsekerheid op te klaar en so tot ’n beleggingsvriendeliker omgewing by te dra.
  • Om te belê in infrastruktuur soos paaie, hawens, elektrisiteit en spoorweë wat van kritieke belang vir landbou is en om dit te onderhou.
  • Om omvattende landboutegniese hulp, ontwikkelingsfinansiering, navorsing en ontwikkeling aan boere beskikbaar te stel.
  • Om voedselsekerheid, produksie, werkgeleenthede, waardigheid en inklusiwiteit te verhoog.
  • Om markuitbreiding, marktoegang en meer handelsgeleenthede te fasiliteer.
  • Om plaaslike produksie, invoervervanging en die uitbreiding van verwerkte landbouprodukte te bevorder.

 

“Vrae oor die legitimiteit van die AAMP is reeds uit sekere oorde geopper en die ondertekenaars sal nou ernstige vrae moet kan beantwoord,” sê De Jager.

Van Zyl is veral bekommerd oor die ideologiese ondertoon van die AAMP en die klem wat dit op transformasie plaas, wat volgens hom ʼn swak geskiedenis het en steeds nie na behore gedefinieer kan word nie. “Die plan is deurspek met rasgebaseerde en kommunistiese ideologieë – ons soek ʼn ekonomiese ideologie wat volhoubare landbou, voedselsekerheid en ʼn markgerigte ekonomie ondersteun. Dit is slegs die markkragte wat jou kan evalueer of jy jou werk doen of nie.

“Die regering het ʼn paar jaar gelede self erken dat 90% van die grond wat hulle oorgedra het, uit produksie gegaan het.”

De Jager sê van die rolspelers namens wie die AAMP onderteken is, voel eintlik soos hy en sy span. “Die plan is namens verskeie bedryfsorganisasies onderteken en hulle het gesê hoewel hulle met my saamstem, gaan hulle maar voort om net op die goeie goed in die AAMP te fokus.”

Van Zyl sê dit sal nooit werk nie. “Net soos jy jouself nie aan ʼn kontrak kan verbind en dan besluit watter dele jy daarvan wil nakom nie, kan jy dit nie met dié plan doen nie. Ons gaan wel die goeie goed uit die AAMP haal en in ons plan daarop fokus.”

Gerhard Papenfus, uitvoerende hoof van Neasa, sê dat die AAMP nie die sakewêreld, wat boere insluit, erkenning gee vir hul bydrae tot die ekonomie en werkskepping nie. “Werkgewers in Suid-Afrika is nie meer lus is om werk te skep nie. Eintlik is dit nie die plig van sakemanne om werk te skep nie. Die regering moet ʼn klimaat skep waarbinne die sakewêreld kan floreer en dan gedwing word om werk te skep soos hulle hul ondernemings uitbrei.

“Jy meng nie in by ʼn sakeman se bedrywighede nie; hy vat sy goed en beweeg na ʼn vriendeliker omgewing. Ek sien herhaaldelik hoe ondernemings uit Suid-Afrika padgee en in Botswana, Namibië en Lesotho gaan vestig.

“Daar is nie een aspek van die sakewêreld wat tans doeltreffend werk nie.”

Die vier organisasies voel ook dit is belangrik om die insette te vra van ander politieke partye wat nie insette kon lewer nie, om sodoende die politieke angel uit hierdie kwessie te trek.

“Ons moet ophou om hiervan ʼn rasoefening te maak en dit ʼn suksesoefening maak,” sê Van Zyl. “Dan moet ons ook vir ons boere dankie kan sê vir die stabiliserende invloed wat hulle op die land het.”

De Jager sê hulle gaan die plan bo op die bestaande een op die tafel sit “en met die ondertekenaars stoei en vrae vra tot hulle vir ons kan sê of hulle ʼn probleem met ons plan het. Ons sien kans om verder te stoei tot ons by ʼn oplossing kom”.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Grond ·

Kan iemand in bestuur van AgriSA miskien vir ons vir meer duidelikheid sê hoekom hulle die dokument geteken het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.