ANC boots ou Sowjetunie na, sê TLU SA

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. (Foto: Du Preez de Villiers)

TLU SA het onlangs in ʼn gesprek met die media die standpunt ingeneem dat die ANC sonder skroom besig is om ʼn kommunistiese bestel, soos in die voormalige Sowjetunie, te implementeer.

“Ons sit met ʼn verklaarde beleidsrigting van die ANC (en ook die ander partye in die drieparty‑alliansie, naamlik Cosatu en die SAKP) om sosialisme en kommunisme volgens die voormalige Sowjetunie se model te vestig,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.

Hy het aan Maroela Media gesê dat hy by Jacob Zuma aan huis was net voor hy tot president verkies is, en “hy het reguit aan my verklaar dat die ANC se plan is om ʼn volle kommunistiese stelsel in Suid-Afrika te implementeer.

“Ek het daarna ook gereeld met Gwede Mantashe gepraat, toe hy nog sekretaris-generaal van die ANC was. Hy het vir my gesê hulle streef slegs dit na wat tydens die ANC se nasionale konferensies genotuleer word. Die res is maar net praatjies.

“Dit is ʼn model wat wêreldwyd nog net armoede en hartseer veroorsaak het.”

TLU SA het op ʼn besoek aan Georgië, ʼn land wat deel uitgemaak het van die voormalige Sowjetunie, ʼn bydrae gaan lewer om ʼn markgerigte ekonomie vir veral landbou te help vestig.

“Die prys wat daardie land betaal het om 70 jaar gebuk te gaan onder dit wat die ANC nou hier wil vestig, was onmeetbaar groot. Twee groot aspekte het duidelik opgeval, naamlik armoede, maar ook die ‘denke van die mense is vermoor’. Ondernemerskap is vernietig. In hul geval het jonger mense gelukkig in die laaste aantal jare dinamies opgestaan en is die herstelpad verstommend,” sê Van Zyl.

Hy sê die ANC se vernietigende strewe word verpak in hulle sogenaamde transformasie-agenda. “Dit is betreurenswaardig dat begrippe wat in ons idioom positief is, misbruik word tot ʼn verdoemende toekoms vir die land en sy inwoners. Wat is die definisie van transformasie soos wat die ANC dit sien? Vir geruime tyd reeds bly dit vir ons ʼn onbeantwoorde vraag wat ons aan die implementeerders van die proses gestel het, wat tans besig is met die daarstel van ʼn volgende landbouplan, naamlik die Agricultural Agro Master Plan (AAMP).”

Hy sê ons moet onthou wat is die werklike definisie van transformasie. “Transformasie is ʼn meetbare positiewe verandering in die stelsel, natuur en van ʼn spesifieke ontwikkelingsgebied, tot voordeel van alle partye, sonder die benadeling van enige rolspeler of aspek.

“Dit moet dus ʼn proses wees om dinge te verbeter in almal se belang en dit is ongelukkig nie wat ervaar word met dit wat die ANC daarstel nie.

“Die ANC is inderdaad reeds in die praktyk besig met ʼn omskakeling na sosialisme, gegewe die onrealistiese uitbreiding van die getal mense wat van maatskaplike toelae afhanklik is. Dit is nie volhoubaar nie en iewers gaan die ANC uit voldoende belastingbetalers loop met die noodwendig katastrofiese gevolge.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

marius ·

Moet asseblief nie die ou Soviet Unie so beledig om hulle te vergelyk met die gemors nie .

Jaco ·

Ek stem saam. Die Sowjetunie was onder kommunisme SONDER nonsens soos beurtkrag, swak vuil staatshospitale, lae standaard onderwys, swak of geen munisipale dienslewering, plakkerskampe, reusagtige werkloosheid. Lyk my die ANC mense wat daar in ballingskap was, het NIKS daar geleer nie.

Groen Ghoen ·

Dit is tog heeltemal ongelooflik? Kommunisme in die toekoms is nie hoe ek vir FW, Pik , Roelf en Leon verstaan het nie. Ek sal maar wag om eerder die volle waarheid by Max en Piet te verneem – hulle ken vir Cyril. Mnr. van Zyl het sekerlik vir die agbare Mnr. Zuma verkeerd verstaan – soveel mense doen dit deesdae….

Karel Kobus Kruger ·

Groen Ghoen, jy het vir frikkie effe verkeerd verstaan. Sodra die wigte en teenwigte inskop, sal kommunisme sommer so poef! verdwyn. Dit behoort nou enige oomblik te wees, so wees net nog n klein bietjie geduldig.

kaplyn ·

Max du Preez en Piet Croukamp het dan juis met die kommuniste gaan onderhandel. So hulle behoort te weet dat die ANC se beleid is op kommunisme gevestig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.