Andermatt nou deel van die Madumbi-handelsnaam

Foto ter illustrasie (Foto: Ron van den Berg, Pixabay)

Omgewingsbewuste boere kan nou uitkyk vir ʼn nuwe naam in die natuurlike pes- en plaagbestrydingsbedryf. Die span by Madumbi Sustainable Agriculture het aangekondig dat hulle voortaan as Andermatt Madumbi (Edms.) Bpk. bekend sal staan.

Sedert hulle in 2010 kragte saamgespan het, was Madumbi ʼn lid van die Andermatt Biocontrol-groep, die wêreldbekende Switserse maatskappy wat oor die afgelope drie dekades baanbrekerswerk in biobeheer op gewasproduksie gedoen het.

Andermatt spog met verskeie innoverende produkte om insekte, swamme en knaagdiere op natuurlike wyses te beheer en bied ook biostimulante, saadbeskerming, groeireguleerders, insekvalle en selfs voedsel vir natuurlike plantstropers soos liewenheersbesies.

Met ʼn span kundiges oor die wêreld, en deur tegniese leiding en ondersteuning vir boere, word hulle as ʼn markleier in volhoubare landbou beskou.

Madumbi is 20 jaar gelede in die lewe geroep toe Andre Fox en Patrick Deal ʼn vennootskap met Timbavati-wildreservaat aangegaan het om die plaaslike Shangaan-gemeenskappe te help waar hulle probeer het om ʼn beskermde olifantdeurgang te skep. Hulle het hul doel bereik deur volhoubare landbou in te span.

Albei ondernemings het onder die gedeelde visie, naamlik dat die natuur nuutskeppings lei, saamgekom en met ʼn gevestigde naam van biologiese uitnemendheid begin saamwerk om landbou tot ver in die toekoms volhoubaar te maak.

“Ons glo daaraan om gesonde, voedingryke voedsel vir ons land en die wêreld te voorsien en om volhoubare boerderystelsels ʼn werklikheid te maak,” sê Donvea Hooker, hoof van kommunikasie.

“Deur die passie en energie van Madumbi te verenig met die presisie en ervaring van die Andermatt-groep, sien ons daarna uit om ons voetspoor te vergroot en die kommersiële en kleinhandelsektor te omskep met bioprodukte wat deur die wetenskap ondersteun word en deur die natuur geliefd is.

“Ons is meer as net die somtotaal van ons dele. Dit is die presisie van ʼn Switserse horlosie, met die hartklop van ʼn Afrika-trom. Dit is Andermatt Madumbi.”

Boere moet daarop let dat die maatskappy se registrasienommer, BTW-nommer, bankrekeningnommers, afleweringsinligting en adres onveranderd bly. Die webwerf van die maatskappy verander na www.andermatt.co.za en alle soektogte en dokumentasie met www.madumbi.co.za word outomaties na die nuwe domein herlei.

Die e-posadresse van die onderneming sal ook bygewerk word volgens die wêreldwye Andermatt-standaard en alle e-posse na bestaande madumbi.co.za-domeine word outomaties herlei.

Madumbi se kontaknommer bly onveranderd, naamlik 033 342 3984, en Andermatt Madumbi se spanlede se selfoonnommers bly ook onveranderd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.