Ankole-genootskap wil ook toerismemark ontgin

Die bul, Cumulus, met sy 50 2/8″ horings het die hoogste prys op die veiling behaal en is vir R1,65 miljoen deur Benella aan ʼn anonieme aanlyn bieër verkoop. (Foto: Ankole-beestelersgenootskap katalogus)

Phala Phala Wildlife was Saterdag ʼn miernes van bedrywighede toe kopers en verkopers op dié plaas toegesak het vir die Ankole-beestelersgenootskap van Suid-Afrika se nasionale veiling, met die hoop om munt te slaan uit hierdie snelgroeiende bedryf.

Maroela Media Landbou en ander landboupublikasies is ook genooi om die veiling by te woon.

Hoewel hierdie plaas van pres. Cyril Ramaphosa wat tussen Thabazimbi en Bela-Bela geleë is tans in omstredenheid gehul is, het die Ankole-genootskap besluit hy gaan hom nie daardeur laat beïnvloed nie en voortgegaan om dié belangrike nasionale veiling daar aan te bied, soos wat beplan is.

Jacques Malan, president van die Ankole-genootskap, het gesê hy is baie tevrede met die veiling se uitslae en sê hy is bly dat die beste pryse wat behaal is, so naby aan mekaar was.

“Ek dink dit was ʼn uitstekende veiling en daar was nie groot uitskieters nie, terwyl die gemiddelde pryse baie goed was. Dit wys jou hoe groot die belangstelling en sterk die koopkrag vir Ankoles is.”

Benella-stoet se bul, Cumulus, is vir die hoogste prys van R1,65 miljoen aan ʼn anonieme aanlyn bieër verkoop. Daniel Naudé, Cumulus se verkoper sê hy het nooit gedink dat hy dié prys gaan behaal nie. “Ek gaan wel my spogbul baie mis, hy het my koeie gedek en goeie kalwers gegee, maar ek het gedink die bul het nou ander koeie nodig en gaan die ras meer verryk op ʼn ander ou se plaas.”

Die tweede hoogste prys is vir die bul, Dollar betaal, wat uit die Pongola-gebied kom. Wilhelm Willemse van W2-Ankole het ‘n ronde R1 miljoen vir hierdie vier jaar oue bul gekry. ‘n Duisend semenstrooitjies was by die transaksie ingesluit. “Ek was ‘n onbekende teler, maar Dollar het my nou ‘n voet in die deur gegee,” sê hy.

Dollar is vir R1 miljoen verkoop. (Foto: Ankole-beestelersgenootskap katalogus)

Willemse het nog ‘n duisend van Dollar se strooitjies gehou en sy planne is nou om met ander telers saam te werk om op Dollar se lyne te verbeter, om te help om van dié uitstekende genetika in die land te bevorder.

Hy het sy stoet vyf jaar gelede stelselmatig begin opbou deur embrios en jong diere te koop, tot waar hy vandag is. Die Pongola-gebied is egter genadeloos met al die veesiektes wat daar voorkom, maar Willemse sê sy diere is gehard en word nie maklik daardeur beïnvloed nie.

Die derde hoogste prys was vir die vers Akani van Embroy Plus wat vir R950 000 verkoop is.

Ramaphosa se boerdery Ntaba Nyoni se vers Pata Pata is vir R675 000 verkoop.

Die totale omset van dié veiling was R21 045 000.

 

Jaco Pretorius, uitvoerende hoof van Veewinkel; Brandon Leer, afslaer; Daniël Naudé, verkoper; sy vrou Caren; JP Smith, operasionele hoof van Veewinkel en die Naude’s se kinders, Benjamin en Ella, glimlag breed oor die spogprys wat vir Cumulus behaal is. (Foto: Du Preez de Villiers)

Tans heers daar baie vrae oor die volhoubaarheid van die Ankole-ras, gegewe die waarde wat aan dié diere se horinglengtes gekoppel word in plaas van kommersieel voordelige eienskappe soos vleis.

Maroela Media het by Malan, wat by Ramaphosa as president van die Ankole-genootskap oorgeneem het, gaan hoor wat sy visie vir die ras is.

“Hierdie is so ʼn jong ras en ons begin nou eers met hom te teel. Dit is amper ʼn wilde dier wat jy uit die veld geneem het, en net soos met die buffels het ons aanvanklik nie eintlik geweet wat ons het nie. So, nou het ons in rigtings begin teel en oor so vyf jaar van nou af sal ons die resultate en werklike suksesse sien.”

Hy sê die potensiaal van die Ankole-ras is legio. “Die Ankole-bees het alles wat ʼn bees moet hê, soos vleis, maar ons kyk ook na die lobola-mark en na ekotoerisme, want die horings is iets snaaks en mooi en besonders.”

Jacques Malan, president van die Ankole-beestelersgenootskap sê daar wag opwindende tye op hierdie ras. (Foto: Du Preez de Villiers)

Die Ankole-genootskap het ʼn teelbeleid wat begin vorm aanneem. “Ons wil deur middel van kruisstelling met ander Nguni-rasse sy gehardheid verhoog maar ook met ander vleisbeeste teel vir meer vleis. Dan wil ons natuurlik in lyne teel vir horinggroei, want dit is ook baie belangrik.”

Hy het beklemtoon dat Ankoles nooit in ʼn lyn geteel is nie, maar oor millennia net vermenigvuldig het. “Nou begin ons die diere in lyne teel en sit byvoorbeeld vleis by horings en teel agter vrugbaarheid aan om die ras toenemend te verbeter.”

Hy sê die diere is reeds gehard en bestand teen droogtes en loop reeds in die Karoo, Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en Limpopo.

Naudé se die Ankoles het verskillende teellyne met tot 23 tipe horingvorms. Dan is daar nog verskillende huidkleure wat bykom.  Sodoende maak dit die ras soveel groter en meer interessant as jy dit met ander beesrasse vergelyk.

“As dit kom by die vleisaspek het Ankoles ‘n baie unieke en hoë gehalte vleis met hoë vlakke omega-vette in. “Ons glo dat daar later ‘n besonderse unieke mark vir die vleis sal ontwikkel, maar nie net vir die vleis nie, die melk ook.

“In Uganda, waar dié diere hul oorsprong het, word die tipiese langhoringbeeste gesien as heilig en as tradisionele melkbeeste. Volgens Bahima-beestelers in Uganda is hul melk noemenswaardig beter in gehalte as ander Europese rasse s’n.”

Die veilingsmaatskappy Veewinkel, ʼn divisie van Veilingswinkel, wat die laaste twee jaar die Ankole-genootskap se nasionale veiling aangebied het, se aandeelhouers en topbestuur bestaan onder andere uit die oud-Springbokrugbyspeler Victor Matfield en die uitvoerende hoof, Jaco Pretorius.

 

Die aand voor die veiling het president Cyril Ramaphosa sy gaste tydens ʼn geslote byeenkoms vertel hoe passievol hy oor sy Ankole-beeste is. Die Veewinkel-span saam met hom is Chris Koch, Christiaan Vorster, Jaco Pretorius, JP Smith, Hans Coetzee en Carl Vos. (Foto: Veewinkel)

Pretorius was op die veiling teenwoordig en het aan Maroela Media gesê Ankoles is vir hom ʼn opwindende mark. “Daar is slegs ongeveer 800 geregistreerde stoet-Ankoles beskikbaar en as jy sien hoe die belangstelling en nuwe toetreders oor die afgelope paar jaar gegroei het, kan ons nog opwindende dinge verwag.”

Pretorius was vroeër ʼn wildboer wat ook ʼn versekeringsonderneming besit het. Hy het die twee bymekaargebring en ʼn wildsversekeringsproduk, Wildswinkel Versekering, bekendgestel. Dit het verder daartoe gelei dat hy ʼn aandeelhouer en vandag ook aan die stuur van die Veilingswinkel-groep is, wat op drie bene staan, Wildwinkel, vir wildveilings, Veewinkel vir veeveilings en Diewinkel vir masjinerie en werktuie. Hul veilingsmodel het ʼn baie sterk aanlynplatform en het ook ʼn app daarvoor ontwikkel, wat ʼn groot leemte gevul het en die afgelope paar jaar baie suksesvol gebruik word.

Die derde hoogste prys is vir die vers, Akani, van Embroy Plus vir R950 000 behaal. (Foto: Ankole-beestelersgenootskap katalogus)

  • ‘n Regstelling is op die artikel aangebring. Die tweede hoogste prys is vir Dollar behaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Kokerboom ·

Ek glo nie die goed maak my opgewonde. Mens boer met bees vir maks massa en kwaliteit. Wat is mooier as ‘n stoet Brahman, Bonsmaras, Boran ens. Dis maar seker ‘n snaaksigheid!!!

Leonard ·

Hierdie vers Akani lyk vir my darem baie na ‘n bulkalf…..

Hans ·

Bees vir horings? Dit is dieselfde dat sg goue velkleur van wild hul spesiaal duur maak.
As vel en horings af is na dier geslag is, is vleis ROOI.

miche ·

So die ” padda’s ” waarna CR verwys het in die verlede, is nou skielik goed genoeg om miljoene vir sy Ankoles op te dok en sy besigheid te bevorder?

Harley Davidson ·

Baie slim plan die inbraak by Phala phala het baie aandag op die onderwerp geplaas so die verniet reklame deur die media pas hulle goed ,ek is ‘n Afrikaner bees boer en weet dat die Afrikaner goed in daardie spesifieke area floreer veral snotsiekte agv die wild op die plase is ongekend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.