Appèldatum vir watersaak bekendgemaak

Foto ter illustrasie Foto: tunechick83, Pixabay)

Die datum van die appèlverhoor in die saak rondom die oordrag van watergebruiksregte is bekend gemaak.

Die registrateur van die appèlhof in Bloemfontein het die verhoor vir die volgende drie sake vir 20 Augustus 2021 geskeduleer:

  • Casper Johannes Lotter NO en ander versus die minister van water en sanitasie en ander.
  • Francois Johannes Gerhardus Wiid NO en ander versus die minister van water en sanitasie en ander; en
  • Suid-Afrikaanse vereniging vir watergebruikersverenigings en ander versus die minister van water en sanitasie en ander.

Dié appèlsake volg ná die uitspraak in die hooggeregshof in Pretoria op 19 Junie 2020 waar die hof ten gunste van die departement van water en sanitasie beslis het, naamlik dat die oordrag van watergebruiksregte nie toelaatbaar is nie aangesien dit neerkom op die privatisering van water.

Ingevolge die Nasionale Waterwet behoort Suid-Afrika se waterhulpbronne aan al die mense, met die minister van waterwese as openbare trustee.

Agri SA, wat die Lotter- en Wiid-saak met geld uit die vrywillige waterfonds finansier, en die Suid-Afrikaanse vereniging van watergebruikersverenigings (SAAFWUA) is van mening dat die bepalings in artikel 25 van die Nasionale Waterwet uiters noodsaaklik is vir doeltreffende watergebruik.

“Agri SA is van mening dat ’n beslissing in hierdie saak, wat reeds sedert 2018 sloer en ontwrigting in die landbousektor veroorsaak, al lank ontbreek. Ons sien uit daarna dat die saak in die hoogste hof van appèl aangehoor word,” sê Janse Rabie, hoof van Agri SA se sentrum van uitnemendheid: natuurlike hulpbronne.

Artikel 25(1) van die wet maak voorsiening vir die oordrag van regte vir die gebruik van besproeiingswater van een persoon na ’n ander, en van een eiendom na ’n ander, onderhewig aan streng voorwaardes, deur waterbestuursinstellings. Artikel 25(2) van die wet maak voorsiening vir die prysgewing van ’n spesifieke watergebruiksreg vir dieselfde hulpbron ten gunste van ander grond/eiendom ten einde ’n watergebruikslisensie-aansoek te fasiliteer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.