Appels en pere oorkom droogte-teëspoed

Landbou in die Wes-Kaap gaan vanjaar baie baat vind by appel- en peeruitvoere. (Foto: Ab3l, Pixabay)

Die afgelope droogte in die Wes-Kaap het sy houvas op die appel- en peerbedryf verloor en die uitvoervooruitsigte vir hierdie kernvrugte lyk baie goed.

Volgens dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, kan die bedryf uitsien na ʼn tydperk van ekonomiese herstel en werkskepping.

“Die vrugte- en groentebedryf was die enigste sektor wat ’n positiewe reële bruto inkomstegroei van 9% op ’n jaargrondslag in die derde kwartaal van verlede jaar getoon het. Derhalwe het dit ʼn beduidende bydrae tot die Wes-Kaap se landbou gelewer,” sê hy.

“Hierdie bemoedigende nuus word deur die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) se mediumtermyn-vooruitskouing gesteun, wat daarop dui dat groei in dié kernsektor van die provinsie tot indiensneming sal bydra.”

Hortgro onderskryf hierdie siening. Hierdie organisasie, wat na die sagtevrugtebedryf omsien, het aangedui dat die oppervlakte wat in 2020 onder peerbome aangeplant is, 12 913 ha was en appels 25 272 ha, wat ’n uitbreiding van onderskeidelik 5% en 4% sedert 2016 is. Verder het dié appel- en peerplase gesamentlik 42 756 mense in hul diens.”

Hortgro het in ʼn verslag gesê dat die broodnodige reën en voldoende koue-eenhede gedurende die afgelope winter verseker het dat boere genoeg besproeiingswater tot hul beskikking gehad het. Dit het ʼn goeie vrugset tot gevolg gehad en gunstige weerstoestande tot op hede beloof ’n goeie oes- en vruggehalte.

Die koeler lente en hoë vroeësomertemperature wat tot dusver ervaar is, kan wel ’n negatiewe impak op vruggrootte hê, maar boere is steeds baie optimisties, aangesien vruggehalte goed is en uitpakkings belowend lyk.

Jong boorde wat in produksie kom, is een van die hoofredes vir die hoë uitvoer-oesskatting. Appel-volumes sal na verwagting met 6% toeneem en pere met 8%.

Oor die afgelope drie jaar was die aantal 12,5 kg‑kartonne appels wat uitgevoer is (in miljoene) onderskeidelik 33,87 vir 2019, 36,71 vir 2020 en 44,73 vir 2021. Die skatting vir vanjaar is 47,47. Vir pere is die syfers 17,09, 16,36, 17,42 en vanjaar 19,83.

Tshepo Morokong, senior landbou-ekonoom van die departement van landbou in die Wes-Kaap, het ook gesê dat die provinsie aansienlik bydra tot Suid-Afrika se appel- en peeruitvoerbedrywe.

“Die Wes-Kaap dra gemiddeld meer as 85% tot Suid-Afrika se appeluitvoer by. Die nasionale waarde van die bedryf, van R6,6 miljard in 2020, het met ’n gemiddeld van 24% per jaar gegroei in vergeleke met 2019. Vir die afgelope vyf en tien jaar het dit met onderskeidelik 7% en 13% gegroei.”

Rakende pere was die provinsie se gemiddelde bydrae tot nasionale uitvoer vir die afgelope nege jaar meer as 88%. Suid-Afrika se peer-uitvoer was in 2020 sowat R3,1 miljard werd en het met 18% gegroei vergeleke met die vorige jaar. Vir die afgelope vyf jaar was die jaarlikse gemiddelde groeikoers 9%.

Kaapstad-hawe steeds probleem

Meyer deel ook die kommer van die landbousektor dat ondoeltreffendheid by die Kaapstadse hawe, die Wes-Kaapse landbou-uitvoerbedryf in gevaar stel.

“Hoewel ek tevrede met die vooruitsigte vir landbou-uitvoer soos appels en pere is, ontvang ek deurlopend ​​verslae van ondoeltreffendheid by die Kaapstadse hawe. Dit maak my baie bekommerd. Hierdie ondoeltreffendheid vererger die uitdagings wat die sektor ervaar. Dit sluit in die fasilitering van handelsaktiwiteite en die impak van die Covid-19-pandemie op wêreldwye verskeping.

“ʼn Dringende ingryping is nodig om produktiwiteit en doeltreffendheid by Kaapstad-hawe te verbeter. Derhalwe sal die Wes-Kaapse regering voortgaan om die Kaapstadse hawe-owerheid en die sektor te betrek, om te verseker dat uitdagings wat verband hou met produktiwiteit, ondoeltreffendheid en verouderde infrastruktuur getakel word,” sê Meyer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.