Avokadoboere sal produksie moet verdubbel

Foto ter illustrasie (Foto: sandid, Pixabay)

Avokadoboere in Suid-Afrika het oor die afgelope vyf jaar ongeveer 125 000 ton vrugte per jaar geoes. Die oppervlakte onder kommersiële avokadoboorde is ongeveer 14 700 ha, met nuwe aanplantings van ongeveer 900 ha per jaar. Dié bedryf bied minstens 11 500 werkgeleenthede op plase en in pakhuise. Hierdie seisoen word ʼn styging in avokado-uitvoere van 66 000 ton, in vergeleke met 60 000 ton in die vorige seisoen, verwag.

Hierdie syfers is onlangs deur Derek Donkin, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Subtropiese Kwekersvereniging (Subtrop) by ʼn regstreekse webinaaruitsending van die Suid-Afrikaanse Produkbemarkingsvereniging (PMA) en Beanstalk.Global bekendgemaak.

Derek Donkin, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Subtropiese Kwekersvereniging (Subtrop)

PMA is ʼn handelsvereniging wat maatskappye in elke segment van die varsprodukte- en blombedryf wêreldwyd verteenwoordig. Hulle het 53 000 lede in meer as 2 900 lidmaatskappye wat oor 54 lande versprei is.

Kundiges in die sektor wat ook hulle kennis tydens die geleentheid gedeel het, was Trevor Dukes, uitvoerende hoof van The Fruit Farm Group SA (TFFGSA); Lindie Stroebel, Suid-Afrika se landbestuurder by Mission Produce (“Mission”); Roger Armitage, besturende direkteur van Hall Fresh Produce, en Joe Shaw Roberts, direkteur van verbruikersinsig by Kantar.

Roger Armitage, besturende direkteur van Hall Fresh Produce

Avokadoproduksie in Suid-Afrika is tradisioneel in die warm, subtropiese streek in Limpopo en Mpumalanga in die noord-ooste van die land gekonsentreer, maar dit brei stelselmatig na KwaZulu-Natal en die Oos- en Wes-Kaap uit. Die Suid-Afrikaanse avokado-seisoen duur van Februarie tot November, en die meeste vrugte word van Maart tot September geoes.

Suid-Afrika is deel van die Wêreldavokado-organisasie (WAO) wat produsente, uitvoerders en invoerders van avokado’s verteenwoordig. Ander lidlande sluit Peru, Colombia, Spanje, Tanzanië, Mosambiek, Zimbabwe, Mexiko en die VSA in.

“Tussen 45 en 50% van Suid-Afrika se avokado’s word uitgevoer, 10 tot 12% word tot olie en guacamole verwerk en die res word plaaslik verkoop. Ongeveer 95% van die Suid-Afrikaanse uitvoere word na Europa, die Verenigde Koninkryk (VK) en Rusland gestuur. Die Suid-Afrikaanse bedryf en regering onderhandel tans oor marktoegang tot die VSA, China, Indië en Japan,” sê Donkin.

Volgens Roberts het die Britse avokadomark die afgelope vyf jaar astronomies gegroei, maar langtermyngroei is in gevaar as prysdeflasie op die huidige trant voortduur.

Dukes sê dat die Suid-Afrikaanse avokadosektor produksie dramaties moet verhoog, van tien tot minstens 15 of 20 ton per hektaar, om weerstand teen die prysdruk wat vanuit Europa dreig, te kan bied. “Ons moet ook alternatiewe markte ontwikkel, en ongetwyfeld sal die Ooste ons help om die Europese druk te verlig.”

Trevor Dukes, uitvoerende hoof van The Fruit Farm Group SA (TFFGSA)

Die plaaslike mark bied ook uitdagings wat aandag moet kry. “Met ons lang seisoene – as jy gelukkig is om in verskillende streke te boer – kan jy jou verskaffingsvenster aansienlik rek. In Suid-Afrika se afseisoen voer ons avokado’s van Israel en Spanje in en ons kyk ook na invoere van Tanzanië. Dit stel ons in staat om die aanvraag regoor die jaar te vervul,” sê Dukes.

Armitage sê daar is lande in Afrika waar die verhoging in inkomste per kapita, ekonomiese- en bevolkingsgroei ʼn goeie geleentheid vir uitvoere bied. “Om egter die uitvoerrisiko na hierdie lande te beperk, moet jy hul logistieke kettings, seehawens, grensbeperkings en handelsooreenkomste verstaan.”

Stroebel sê dat die verbruik van avokado’s in China sedert 2014 met 1 000% gegroei het. “Die Chinese verbruik tans 40 gram per kapita. As dit na 4 kg verhoog soos in die VSA, sal ons baie meer moet produseer om in die vraag te voorsien.”

Lindie Stroebel, Suid-Afrika se landbestuurder by Mission Produce

“Dit is ʼn duur proses om ʼn mark van nuuts af te ontwikkel. Jou kliënte moet gemaklik raak met jou produk en die verbruik moet verhoog. As jy dit egter regkry, sal die groeipotensiaal daar wees.

“Ons sien ook die potensiaal om die uitvoere na Europa en die VK te laat groei, omdat die verbruik per kapita selfs groter kan word as in die VSA. Die verbruik per kapita in die EU is tans ʼn derde van wat dit in die VSA is. Die vraag bly egter oor hoe om die potensiaal te ontsluit.”

Dukes verwag dat vernuwing in die avokadosektor voortdurend en geleidelik sal plaasvind. “Presisie-landbou en tegnologie gaan die groot spronge in die Suid-Afrikaanse avokadosektor teweegbring. Met die bestaande en nuwe variëteite en onderstamme lyk ons oeste al beter as voorheen en ons gebruik innoverende tegnieke om boordtoestande en boomvorm te bestuur.

“Een ding wat ons wel kortkom om ons oesprojeksies te verhoog is genetiese materiaal vir kleiner bome, sodat ons teen ʼn hoër digtheid kan plant. Dit is die bietjies-bietjies wat bykom wat tot baie bydra.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Uitvoerklas avo’s word net by rooi verkeersligte by besige roetes verkoop. Reuse in groen net. Winkels verkoop piepklein verkrimptes ten duurste. Is Afrika se skelm kitsmark ons voorland?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.