AWK: Landbou boks vêr bo sy gewig

Villiers Loubser , Agri Wes-Kaap se president, lewer sy presidentsrede tydens hul jaarkongres. (Foto: Facebook)

Die afgelope verslagjaar was ʼn besondere jaar vir landbou in die Wes-Kaap. In ʼn jaar waar Suid-Afrika se reële BBP-groeikoers met 7% afgeneem het, het landbou se reële bydrae tot die BBP met 13,1% toegeneem.

“Landbou het die afgelope twee jaar vêr bo sy gewig geboks en saam met mynbou die regering in staat gestel om tydens die pandemie dinge vlot te laat verloop,” het Theo Venter, ʼn politieke en beleidspesialis, onlangs tydens Agri Wes-Kaap se jaarkongres gesê.

Die kongres is aanlyn aangebied en die tema was: Verenig nou meer as ooit.

Villiers Loubser, president van AWK, het tydens sy presidentsrede verwys na die noodsaaklikheid vir boere om minstens een keer per jaar in persoon by ʼn provinsiale of streekskongres met mekaar skouers te skuur, maar nietemin diegene wat aan die nege virtuele streekskongresse deelgeneem het, bedank.

AWK het ook gefokus op die rol van georganiseerde landbou, wat in die Wes-Kaap uit 92 landbouverenigings en 20 bedryfsorganisasies en spesiale verenigings bestaan.

“Die onmisbare rol van georganiseerde landbou is herbevestig in die afgelope jaar met sy unieke uitdagings,” sê Loubser.

Volgens Loubser behels die feit dat een uit elke vyf werkers in Suid-Afrika se landbousektor in die Wes-Kaap werksaam is, ook ʼn groot sosiale en maatskaplike verantwoordelikheid wat binne AWK met groot omsigtigheid bestuur word.

Hierdie benadering rig die omvangryke aktiwiteite van AWK, waaronder –

  • wateraangeleenthede;
  • mynbou-aktiwiteite wat aanspraak maak op landbougrond;
  • interaksie met die SAPD oor landelike veiligheid;
  • droogtetoestande wat steeds in die provinsie heers, waarvoor AWK ook fondse beskikbaar gestel het;
  • hawe-fasiliteite en logistiek in die algemeen;
  • die voorgestelde wysigings aan die wapenwet;
  • arbeidsaangeleenthede; en
  • en ook die uiters kontroversiële voorgestelde wysiging van artikel 25 van die Grondwet rakende eienaarskap van grond.

Dr. Mogale Sebopetsa, hoof van die departement van landbou in die Wes-Kaap, het ook aan die kongres deelgeneem. Hy verwys na die goeie mate van samewerking wat reeds tussen AWK en die departement van landbou in die Wes-Kaap bestaan. “Ek het dit my persoonlike missie gemaak om die samewerking en vennootskap tussen AWK en die departement te versterk,” sê hy.

Tydens Sebopetsa se toespraak het hy ook verwys na die rol van die sektor as ekonomiese kern in die provinsie en die kritieke rol wat landbou as voedselvoorsiener speel. Hy het AWK ook bedank vir die belangrike rol wat hulle in die sektor speel.

Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, het tydens sy groeteboodskap benadruk dat landbou ʼn geweldige belangrike rol in die provinsie vervul. Hy bevestig ook dat die samewerking en vennootskap tussen AWK en die provinsiale departement van landbou uiters sterk is.

“Ek het ’n vennoot in Agri Wes-Kaap en het volle vertroue dat u die belange van landbou in die Wes-Kaap sal bevorder.”

Pierre Vercueil, president van Agri SA, het Sebopetsa en Meyer se stellings beaam.

“As ons na die afgelope twee jaar kyk, sien ons dat in tye van krisis het ons absoluut verenigd presteer,” beklemtoon Vercueil.

Tydens die kongres is Loubser van die Durbanville-omgewing tot president en Heinie du Toit van die Koue Bokkeveld tot onderpresident van Agri Wes-Kaap herverkies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.