Bayer dek die tafel vir nuutskeppings

Bayer gee nou vir kleiner landbouchemiese maatskappye die geleentheid om hulle navorsing te laat realiseer. (Foto: PublicDomainPictures, Pixabay)

Daar heers ʼn sterk vermoede dat “big ag” (landboukonglomerate) en “big pharma” (farmaseutiese konglomerate) die bedryf manipuleer en kleiner maatskappye ontmagtig om mee te ding, maar Bayer Cropscience het nou sy deel bygedra om dit te beveg.

Wetenskaplikes van oor die wêreld, wat nie noodwendig oor al die hulpbronne beskik om hulle nuutskeppings tot uitvoer te bring nie, kan nou baat vind by Bayer se nuwe program, Testing4Ag.

Bayer sê die verskeidenheid navorsers oor die hele wêreld kyk na landbou en chemie met ander oë en uit ander hoeke. Dit gee Bayer dus nou die kans om met uitgebreide hulpbronne en kundigheid kragte met alle wetenskaplikes saam te span om gewasbeskermingchemie vir die toekoms te ontwikkel, terwyl dié navorsers en instansies alle regte op enige potensiële intellektuele eiendom behou.

“Bayer is ʼn leier in landbounavorsing en -ontwikkeling en daartoe verbind om die toekoms van landbou te verbeter deur nuutskeppende en volhoubare oplossings vir die probleme te vind wat boere vandag in die gesig staar,” sê Bob Reiter, hoof van navorsing en ontwikkeling by Bayer se Cropscience-afdeling.

“Testing4Ag sal baanbrekernavorsers se insette met Bayer se kennis, kundigheid en hulpbronne kombineer sonder om eienaarskap te neem van die intellektuele eiendom wat deelnemers bydra.”

Nuwe chemie kan aan Bayer voorgelê word vir toetsing, in die hoop dat moontlike nuwe werkingsmetodes geïdentifiseer sal word om swamsiektes, insekplae of onkruid te beheer.

Volgens Reiter is Testing4Ag deel van Bayer se Open4Ag-vennootskapontwikkeling en -nuutskeppingsbenadering. Daar word gepoog om die modernste gewasbeskermingsprodukte te ontwikkel wat veilig en volhoubaar is en aan die veranderende behoeftes van produsente voldoen.

Testing4Ag word in vennootskap met die wetenskaplike gemeenskap, Halo, uitgevoer en sal wetenskaplikes help om meer oor hul eie molekules te leer deur toetsing en terugvoering deur deursigtige resultate te gee.

“Die voorgelegde molekulêre ontwerpe sal deur middel van moderne biologiese toetse teen ʼn wye verskeidenheid van plantpatogene, onkruidspesies, insek- en aalwurmplae en/of vektore geassesseer word.”

Die deelnemers kan dit derhalwe vryelik in voortgesette navorsing gebruik. In ʼn verdere verbintenis tot openlike (open source) nuutskeppings, sal navorsers en hul instellings alle regte behou op die potensiële intellektuele eiendom wat deur die Testing4Ag-program gegenereer word.

“Individuele navorsers, universiteite en selfs beginners kan bydra om oplossings vir die belangrikste probleme wat die landbou tans in die gesig staar, te vind. Ons verwelkom hulle om aan Testing4Ag deel te neem,” sê Reiter.

“In die lig van klimaatsverandering en die dryfveer om die omgewingsimpak van landbou te verlaag, is Testing4Ag ʼn ambisieuse program, want die ontwikkeling van gewasbeskermingsprodukte wat boere help om die wêreld te voed is op sigself ʼn ambisieuse onderneming,” sê Rachel Rama, hoof van klein molekules by Bayer Cropscience.

Bayer Suid-Afrika is net so opgewonde oor die inisiatief en Liza Bohlmann, kommunikasievennoot van Bayer Cropscience, het aan Maroela Media gesê daar is heelwat wetenskaplikes, veral verbonde aan universiteite en kleiner maatskappye, in Suid-Afrika en Afrika wat uitsonderlike chemie ontwikkel, maar wat nie die geld het om dit verder te voer nie.

“Ons is oop vir sake en sien baie uit daarna dat kleiner privaat maatskappye ons nader.

“Daar is druk om sagte chemie, organiese en meer volhoubare landbouchemiese produkte te ontwikkel en Bayer wil graag hande vat met onafhanklike navorsers om aan die voorpunt hiervan te bly.”

Kyk die video oor die Testing4Ag-program.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.