BBP in landbousektor krimp

Foto ter illustrasie. (Foto: Maroela Media)

Statistieke Suid-Afrika (Stats SA) het gister syfers vir die eerste kwartaal van 2021 se bruto binnelandse produk (BBP) bekend gemaak. Hiervolgens het die landbousektor se BBP met 3,2% gekrimp, met ’n bydrae van -0,1% tot die groei in BBP.

Volgens Agri SA kan hierdie afname hoofsaaklik toegeskryf aan die laer produksie van akkerbou- en diereprodukte. “Dit was te verwagte, aangesien die eerste kwartaal van die jaar gewoonlik gekenmerk word deur beperkte landbou-aktiwiteite,” sê Kulani Siweya, hooflandbou-ekonoom by Agri SA. “ʼn Groot gedeelte van die landbou se BBP is in akkerbou gekonsentreer.

“Somergewasse word ná afloop van die eerste seisoenale reëns (ongeveer Oktober) geplant, wat normaalweg voortduur tot Januarie, met die oesseisoen wat in April of Mei afskop.

“Wintergewasse word hoofsaaklik in die tweede kwartaal van die jaar geplant en dié oeste is nie baie groot in vergelyking met die someroes nie. Wintergrane word gewoonlik in die derde en vierde kwartaal van die jaar geoes.”

Dié seisoenale faktore, sê Agri SA, speel ’n rol in die laer BBP-syfer, wat weer in die tweede kwartaal behoort te herstel, veral gegewe die positiewe vooruitsigte vir somergewasse.

“Diereproduksie is ook negatief beïnvloed, hoofsaaklik weens die droogte in sekere dele van die land en siekte-uitbrekings in ander dele. Namate kuddes egter herbou word, kan ’n positiewe uitkoms vorentoe verwag word,” sê hy.

Maroela Media het Dinsdag berig die Suid-Afrikaanse ekonomie het in die eerste kwartaal van vanjaar ʼn bestendige groei gehandhaaf en met meer as 1% toegeneem, vergeleke met die laaste kwartaal van 2020.

Agt handelsektore het wel positiewe groei in die eerste kwartaal aangeteken, met die finansiële sektor, mynwese en handelsbedrywe die toppresteerders teen groeikoerse van onderskeidelik 7,4%, 18,1% en 6,2%.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.