Bek-en-klou-uitbreking ‘terugslag’ vir rooivleisbedryf

(Argieffoto: pixabay)

Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) het die jongste uitbreking van bek-en-klouseer onder vee in Mtubatuba in KwaZulu-Natal as ’n verdere terugslag vir die rooivleisbedryf bestempel.

Dit volg nadat Suid-Afrika onlangs sy bek-en-klouseer vrye sone status by die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) op ’n permanente grondslag verloor het.

Volgens die RPO sal dit Suid-Afrika minstens vyf jaar neem om sy status te herwin.

“Indien ons ondertussen wil hê uitvoere moet groei,  moet gesien kan word dat ons vordering maak met die proses om bek-en-klouseer onder beheer te kry,” lui ’n verklaring deur die organisasie.

Luidens die verklaring is dit geruime tyd al duidelik dat die gewone verloop van sake nie voldoende is om bek-en-klouseer te bekamp nie.

Volgens die RPO is die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling sowel as die provinsiale landboudepartemente deeglik bewus van dié feit en is hulle tans saam met die bedryf besig met ’n proses om imbizos in die provinsies, waaronder Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal, te hou wat direk deur bek-en-klouseer geraak word.

Die organisasie sê voorts daar word dikwels na die rooivleisbedryf as die slapende reus van die Suid-Afrikaanse landbou verwys.

“Die rooivleisbedryf is 40% getransformeer en het enorme potensiaal vir inklusiewe groei. Die bedryf is hoogs mededingend wat die gehalte van die produk betref, terwyl pryse 30% onder die wêreldstandaard is. Daar is ʼn realistiese potensiaal om beesvleisuitvoere van die huidige 5% tot 20% van plaaslike produksie te laat groei. Die uitvoere van lewende kleinvee vir slagdoeleindes het die potensiaal om met tot soveel as 10% van produksie te groei.”

Volgens die RPO word ’n hoë standaard van dieresiektestatus en -beheer egter vereis om dié potensiaal te verwesenlik.

Die formele rooivleisbedryf is nou besig om ʼn memorandum met voorstelle vir moontlike oplossings te finaliseer wat aan die minister van landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming, Thoko Didiza, oorhandig sal word. Die oplossings sluit onder meer in bykomende befondsing van die tesourie en maniere om kapasiteitsprobleme te takel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Dirk Mostert ·

Voelgriep onder hoenders, varkgriep en nou bek-en-klouseer onder die beeste. Ons voedselproduksie is onder druk. Toevallig?

Piet parys ·

En so val die landbou se wiele af deur onbevoegde mense aangestel word om diere siektes te bekamp.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.