Bek-en-klouseer-gebied in KZN verklein

Foto ter illustrasie (Foto: Maroela Media)

Die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, het bekend gemaak dat die bek-en-klouseer-kwarantyngebied in KwaZulu-Natal kleiner gemaak is.

Dié gevreesde veesiekte het einde Mei vanjaar in groot dele van die provinsie uitgebreek en maatreëls is inderhaas ingestel om dit te bekamp.

Maroela Media het ʼn maand gelede berig dat daar toe 22 plekke in KwaZulu-Natal was waar bek-en-klouseer positief geïdentifiseer is en wat onder kwarantyn geplaas is.

Hierdie besluit, om die beheergebied kleiner te maak, volg op die uitslag van ʼn tweede ronde serologiese toetse (bloedmonsters word getrek om te toets vir teenliggaampies).

Dit is vasgestel dat die siekte binne die beheergebied nou slegs beperk is tot twee groepe diptenks in Mtubatuba en Nongoma. Dit toon dat die beheermaatreëls vir die beweging van diere uit, binne, deur en na die kwarantyngebied voldoende was om die siekte te bekamp.

“Ek wil die boere en gemeenskappe wat die bewegingsbeperkings nagekom het, prys. Hulle het dit moontlik gemaak dat die beheerbeperkings nou verslap kon word,” sê Didiza.

Die oorspronklike bek-en-klouseer-beheergebied word met ʼn rooi grenslyn aangedui en die nuwe hersiene gebied is met blou omlyn en met diagonale strepe ingekleur. (Grafika verskaf)

Die minister het in die Staatskoerant, nr. 45109 van 7 September, die nuwe beheergebied afgekondig, wat die volgende gebiede insluit:

  • Die uPhongolo-munisipaliteit oos van die R66, asook suid en wes van die N2,
  • die hele Nongoma-munisipaliteit,
  • die Big Five Hlabisa-munisipaliteit wes van die N2,
  • die hele Mtubatuba-munisipaliteit,
  • die hele Mfolozi-munisipaliteit,
  • die uMhlathuze-munisipaliteit noord van die R34 en
  • die hele Hluhluwe iMfolozi-park.

Bek-en-klouseer is in altesaam 29 plekke bevestig, by ʼn aantal diptenks in kommunale gebiede, asook op twee kommersiële plase. Die Umhlabuyalingana-, Jozini-, eDumbe-, Abaqulusi-, Ulundi-, Nkandla-, Mthonjaneni- en uMlalazi-munisipaliteite is egter nou vrygestel van bewegingsbeperkings.

Vir die boere binne die hersiene beheergebied geld die bestaande reëls steeds. Die vervoer van gesplete hoefdiere en hul produkte na, uit, deur, of binne die beheergebied word slegs toegelaat met ’n permit wat deur die veeartsenykundige dienste van die gebied uitgereik is.

Die bewegingsprotokolle kan by die KwaZulu-Natal se veeartsenykundige dienste verkry word. Sigbare patrollies en padblokkades sal in plek bly om die beweging van vee te beheer en om die nakoming van die bewegingsprotokolle te monitor.

Veeboere in die beheerde gebiede word aangemoedig om alle vervoeraansoeke by die provinsiale veeartsenykundige beheerbeamptes in te dien vir evaluering en risiko-assessering.

Aansoeke en navrae kan by [email protected] ingedien word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.