Bek-en-klouseer skrik Nampo Alfa nie af

Foto ter illustrasie (Foto: Du Preez de Villiers)

Die onlangse aankondiging deur Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, dat beeste nie verskuif mag word nie, veroorsaak groot ontwrigting in die veebedryf, maar Nampo Alfa se organiseerders het aangedui dat die skou voortgaan.

Dié aankondiging wat gemaak is na aanleiding van die voortslepende bek-en-klouseer-uitbrekings, plaas egter ʼn demper op dié skou omdat Nampo Alfa sterk op die uitstal en skou van diere fokus.

“Didiza se aankondiging het tot gevolg dat minder beeste waarskynlik deel van die ekspo sal uitmaak,” sê dr. Dirk Strydom, Graan SA se hoof: Nampo, bemarking en navorsingkoördinering. “As ʼn lewendehawe-ekspo is Nampo Alfa se fokus op alle lewendehawe wat onder meer skape, bokke, varke en perde insluit, sowel as honde en pluimvee – wat in dié stadium nie deur die verbod geraak word nie.”

Hy voeg by dat die jag- en buitelewe komponent uit die aard van die saak ook glad nie beïnvloed sal word nie.

In ʼn verklaring het Nampo Alfa gesê dat hulle, as verantwoordelike rolspelers in die lewendehawebedryf, sal toesien dat daar aan alle reëls en regulasies, soos deur die minister afgekondig, voldoen sal word.

“Alle bio-sekuriteitsprotokolle is reeds in gereed en sal net nóg meer nougeset toegepas word om die risiko so goed as moontlik te bestuur. Hierdie protokolle is reeds suksesvol tydens die Bloemskou en Nampo toegepas. Die organiseerders werk ook saam met leiers in die bedryf en staatsinstellings in hierdie verband.”

Nampo Alfa vind van 29 September tot 1 Oktober plaas, wat buite die verbodtydperk van 21 dae val wat reeds voorverlede week in die Staatskoerant afgekondig is. Nietemin het die organiseerders besluit om beesgetalle so ver as moontlik te beperk en slegs projekte te akkommodeer waarin risiko’s effektief bestuur kan word deur middel van protokolle in samewerking met veeartse.

“Gelukkig leen die aard van die ekspo en die onderskeie programme hulle daartoe om goeie bestuur toe te pas,” sê Strydom. “Die projekte wat wel groter risiko’s sal inhou en moeiliker bestuur kan word, word afgestel en aanlyn voortgesit.”

Die kleinveeprogram gaan voort soos beplan. Die meeste kleinveerasse in Suid Afrika sal deelneem aan ʼn verskeidenheid items. Dit geld ook die vark-, pluimvee- en perdeprogramme. In dié opsig sal die protokolle steeds in oorleg met kundiges en veeartse nagekom word.

“Indien daar verdere veranderinge in die regulasies aangekondig sou word, sal die situasie herevalueer en besluite dienooreenkomstig aangepas word. Dit is egter deurgaans ons erns om ons rol verantwoordelik na te kom in die lig van die huidige bek-en-klouseer-situasie,” sê Strydom.

“Ons is baie opgewonde om die nuwe Nampo Alfa aan te bied en daar gaan vir almal iets wees om na uit te sien. Daar is ʼn groot verskeidenheid hoë gehalte jag- en buitelewe-uitstallers om te besoek.

“Hinterland het gehelp om ʼn skietbaan te bou, waar praktiese demonstrasies tydens die skou sal plaasvind, met selfs die moontlikheid van kompetisies. Besoekers kan ook op die 4 x 4-baan ry en ʼn gevoel van die voertuie in veldtoestande kry.

“Die doel van die ekspo is bowenal om elke besoeker ʼn praktiese ervaring te bied. ʼn Hoogtepunt is laastens die nasionale veldwedren, waar talle bekende renjaers in aksie gesien kan word,” voeg Strydom by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.