‘Black beast’ Massey Ferguson, eerste in SA

Die eerste pasmaak, swart Massey Ferguson in Suid-Afrika is reeds fluks besig op ‘n plaas in KwaZulu-Natal. (Foto: Verskaf)

Massey Ferguson (MF) het ʼn stelsel bekendgestel waarmee ʼn boer kan besluit wat sy trekker se kleur moet wees en boonop vanaf ʼn keuselys kies hoe sy trekker ontwerp moet word. Die eerste swart Massey Ferguson-trekker, ʼn MF 7720 S, wat met behulp van dié stelsel aanmekaargesit is, het onlangs in Suid-Afrika aangekom.

Dieter Schroder, eienaar van DT Farming Trust in Winterton, wat saam met sy skoonseun, Ross Braithwaite, boer, was op soek na ʼn hoëperdekrag-trekker vir hul nuwe drieton-kunsmisstrooier, maar hulle wou ook iets buitengewoons hê.

Hulle was in die mark vir ʼn 6,6 sessilinderenjin met ʼn sterk hidrouliese stelsel en ʼn agterste driepuntkoppeling wat nie vir drie ton sou skrik nie. Die trekker moes ook maklik kontoerwalle hanteer.

Daarbenewens moes die prys hul sak pas, aan al hul behoeftes voldoen, lae onderhoudskoste hê en ekonomies met brandstof omgaan.

Pa en skoonseun het dus by Drakensberg Landboudienste (DAS), met wie hulle al ʼn lang pad stap, gaan aanklop vir raad en leiding.

DAS is ʼn boerdery en jare lange MF-handelaar in die Bergville- en Winterton-omgewing en die direkteur, Sven Rohrs, wat saam met sy pa, Leon, eienaars van die onderneming is, het AGCO se eiesoortige modelleringstelsel (ASK) gebruik om hul kliënt te help om “iets spesiaals” te vind.

Dieter Schroder, Ross Braithwaite en Sven Rohrs is hoogs beïndruk met die ASK-stelsel van AGCO waarmee dié Massey Ferguson aanmekaargesit is. (Foto: Verskaf)

Die ASK-stelsel word gebruik om trekkers te ontwerp wat pasgemaak vir ʼn kliënt is, sodat ʼn boer byvoorbeeld kan besluit of hy ʼn aftakas wil hê, hoe sterk sy hidrouliese stelsel moet wees en of hy ʼn enkel- of dubbelry-bande wil ophê. Daar is ook verskillende opsies beskikbaar vir die opstel van presisieboerdery-funksies.

“Terwyl die swart kleur ongetwyfeld die meeste uitstaan, is dit die ASK-stelsel wat hierdie trekker eiesoortig maak. Daarmee kan elke klein detail verander en aangepas word, na gelang van die kliënt se behoeftes. Ons kan met ʼn kliënt, soos DT Farming Trust, sit en ʼn trekker van die grond af opbou en aanpas om aan hul behoefte aan funksionaliteit en gemak te voldoen,” sê Leon.

Terwyl Braithwaite die nuwe MF 7720 S-reeks op die Massey Ferguson-webwerf en YouTube-video’s nagevors het, was sy sewejarige seuntjie, Carter, verheug toe hy hom vertel het dat hy op die punt staan om ʼn nuwe trekkerfabrikaat vir die plaas te koop.

Die MF S-reeks is een van die mees tegnologies gevorderde trekkerreekse op die mark vandag. Daar is veranderinge aan die begeleidingsfunksie vir presisieboerdery aangebring en die trekker beskik oor ʼn Fieldstar 5-terminaal met ʼn Trimble 382-ontvanger en volledige RTK-ontsluiting wat ʼn akkuraatheid van 3,2 tot 3,8 cm waarborg. Die ISOBUS maak voorsiening vir intuïtiewe rigtingbeheer.

Massey Ferguson het heelwat verbetering op hul nuwe S-reeks aangebring. (Foto: Verskaf)

“Die strooier was inprop-en-werk (plug-and-play) en het binne minute soos ʼn droom gewerk,” sê Sven.

In die kajuit is die beheerpaneel vir presisiebeheerfunksies aan die een kant aangebring en aan die ander kant die een om die trekker te beheer. Dit stel die drywer in staat om maklik tussen die twee te onderskei. Nog ʼn nuwe kenmerk is die multipaneel- en multifunksionele beheerstok waarmee die agterste koppelstang, aftakas, hidrouliese kleppe, ratkas, spoed en die prosedure op die wenakker beheer word. Alles is maklik byderhand vir meer gemak.

Ná die konsultasieproses tussen DAS en Braithwaite, is die bestelknoppie gedruk om outomaties ʼn tydgleuf by die Beauvais-fabriek in Frankryk te bespreek. Daarna het albei van hulle weekliks ʼn bywerking oor die vervaardigingsproses ontvang. Ná slegs 12 weke het die swart trekker in die Durbanhawe aangekom. Met sy aankoms op die plaas het Carter die trekker die “Black beast” gedoop.

“AGCO Suid-Afrika het laat in 2020 van ʼn drievlakverspreidingsmodel na ʼn model oorgeskakel waar daar regstreeks na die handelaar versprei word. Die middelmanne is verminder en ʼn regstreekse koppelvlak is met AGCO Afrika en ons eie kliënte in werking gestel,” sê Sven.

“Wanneer ‘n kliënt bereid is om ʼn groot bedrag geld in ʼn nuwe stuk toerusting te belê, is dit van sleutelbelang om dit uit die staanspoor volgens die kliënt se behoefte en voorkeur te bou. Hierdie nuwe sakemodel het ons in staat gestel om nader aan die kliënt en vervaardiger te kom.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johannes_64 ·

Die trekker lyk pragtig, maar die kleur is bietjie on prakties.
En mens kan nie anders as om te dink dit is ‘n teken van die eindtyd as mens die kleur van ‘n Massey Ferguson mag kies nie …hahaha

Harley Davidson ·

Stem saam massey moet rooi wees ,swart is die mees onpraktiese kleur as in ag geneem word ‘n trekker werk meestal in die son.

quartus ·

Daarr behoort eintlik “GT” by nie naam gevoeg te word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.