Boere in nood kan steun op nuwe hulpkonsep

Zoetis het onlangs ’n jumbo-tjek met ’n bedrag van R456 360 aan die ARF oorhandig. Paris Ryf, bemarkingsbestuurder van Zoetis; Anton Niemann, direkteur van Agri Relief Foundation; dr. Ralf Patzelt, direkteur van Zoetis se lewendehawesake-eenheid; Frik van der Westhuizen, direkteur van AgriBonus; en David Human, (tweede) bemarkingsbestuurder van Zoetis, het almal hul gewig agter dié edel projek ingegooi. (Foto geneem deur Deidré Louw, Plaas Media en verskaf deur AgriBonus.)

AgriBonus en sy deelnemende vennote het ’n splinternuwe konsep bekendgestel om kommersiële boere in tye van nood by te staan.

Boere kan nou tot die nuutgestigte Agri Relief Foundation (ARF), ’n niewinsgewende organisasie, se fonds bydra deur slegs deelnemende landbou-ondernemings te ondersteun met die aankoop van produkte wat hulle in elk geval vir die boerdery sou aanskaf.

“Die doel van dié fonds is om individuele kommersiële boere en boerdery-eenhede te help met vinnige finansiële bystand in tye van nood, wat die voortbestaan van ’n volhoubare boerderyeenheid ernstig bedreig. Dit sluit in boere wat al hul vee tydens brande verloor, of plaasmoorde, politieke onluste en natuurrampe (uitgesluit droogtes) ondervind waar finansiële of kundige hulp onmiddellik benodig word,” sê Frik van der Westhuizen, hoof- uitvoerende beampte van AgriBonus.

’n Paar van AgriBonus se vennote het onderneem om skenkings aan die ARF te doen op grond van produkverkope. Die dieregesondheidsmaatskappy Zoetis het reeds onderneem om R10 te skenk vir elke houer Terramycin (500 ml), Cydectin (500 ml) en Dectomax (500 ml) wat hulle verkoop.

Zoetis het ook die daad by die woord gevoeg en tydens die ARF se amptelike bekendstelling in Sandton ’n tjek ter waarde van R456 360 aan dié hulpfonds oorhandig. Die bedrag verteenwoordig verkope van bogenoemde produkte sedert die begin van die jaar.

“Wat die konsep so uniek maak, is dat die ARF programmaties elke lynitemskenking van elke deelnemende produk wat verkoop word, registreer. Elke transaksie is dus naspeurbaar en maak dit moontlik om enige hulp wat aan ’n boerdery verleen word, terug te spoor na die transaksies wat daardie spesifieke fondse voortgebring het,” sê Van der Westhuizen.

“Daar kan dus kwartaalliks of jaarliks ’n verslag aan elke boer gestuur word oor die produkte wat hy gekoop het en wat tot die fonds bygedra het. Dit kan ook aandui watter projekte daardeur ondersteun is.”

Talle ander AgriBonus-vennote het aangedui dat hulle ook binnekort bekend sal maak watter van hul produkte se verkope geld vir die ARF sal inbring.

“Die stigting maak nie net op AgriBonus se vennote staat vir finansiering nie, maar is ’n voertuig vir alle landbou-ondernemings wat graag ’n bydrae wil lewer tot die landbousektor, wat dan ook hul primêre mark is,” sê hy.

Zoetis het byvoorbeeld reeds alle ander dieregesondheidsmaatskappye uitgedaag om ook produkte te identifiseer vir hierdie doel.

“Die ARF sal sterk steun op AgiBonus en sy gesofistikeerde sagteware-infrastruktuur, asook sy vennote met hul agente wat boere gereeld besoek. Van hierdie vennote sluit in Zoetis, Laeveld Agrochem en De Heus. Hul agente sal ingespan word om nood blitsig en doeltreffend te identifiseer, wat die ARF in staat sal stel om vinnig reaksieplanne in te stel en uit te voer,” sê Van der Westhuizen.

Om te deel te word van hierdie omgee-inisiatief kan mense die ARF se webwerf besoek en meer inligting bekom.

Skandeer hierdie QR-kode om ’n ad hoc-bydrae deur die Snapscan-app te maak. Grafika: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.