Boere maak belofte vir grondgesondheid

Boere het ‘n belofte gemaak dat hulle hul grond in ‘n beter toestand aan die volgende geslag sal oorgee. (Foto: shameersrk, Pixabay

Landbou-organisasies reg oor die wêreld het aangedui dat hulle toenemend voel dat hul regerings “teen” hulle regeer en beleide daarstel wat nie bevorderlik vir landbou is nie, wat dit vir hulle moeiliker maak om mededingend te produseer.

Dr. Theo de Jager, die president van die Wêreldlandbou-organisasie (WFO), het tydens die Britse nasionale landbou-unie (NFU) se kongres gesê dat hierdie probleem opgelos gaan word as landbou verby pleitveldtogte en voorspraak beweeg en tot optrede oorgaan om beleid te beïnvloed. Die mikpunt is dan om die bal in die beleidmakers se hande te plaas.

In sy toespraak het hy ʼn blik op landbou wêreldwyd gegee en gesê die belangrikste funksie van enige landbou-organisasie, maak nie saak hoe klein of groot, plaaslik of internasionaal nie, is om regeringsbeleid te beïnvloed.

“Maar om enige beleid te beïnvloed, moet jy reeds jou eie beleid geformuleer het en dit is ʼn luuksheid onder landbou-organisasies, want jy moet konsensus onder boere kry. Boere moet saamstem om die mandaat vir ʼn bepaalde beleid te gee, en dit is nie maklik nie.

“Daar is nie twee boere wat dieselfde boer nie. Hulle is entrepreneurs, besluitnemers en mense wat vir hulself dink en doen. Dit maak dit moeilik om beleid te ontwikkel.”

Hy het die NFU gelukgewens met hulle jongste beleid, ʼn netto zero-belofte, wat daarna streef om landbou se koolstofvoetspoor uit te wis.

“Julle het nie net leiding geneem in die ontwikkeling van ʼn klimaatsveranderingsbeleid nie, julle het ook die horisonne vir boere reg oor die wêreld oopgemaak toe julle julself tot netto zero verbind het,” sê De Jager.

Hy was baie ernstig toe hy gesê het dat ʼn beleidnemingsproses deur die omgewing en veral die wetenskap ondersteun word.

“As beleid nie op die wetenskap gegrond is nie, is dit nutteloos. Beleid moet na 50 jaar steeds toepaslik wees en as wetenskaplikes vir boere die geelkaart gee, moet ons ons beleid verander.

“Ons kan nie teen die wetenskap baklei nie. In die WFO het ons ʼn wetenskapkomitee saamgestel en al ons lede gevra om die beste wetenskaplikes wat hulle ken, na die tafel te bring en hulle raad te vra in al ons beleidnemingprosesse.”

Hy het bygevoeg dat dit ook al hoe belangriker word om na die stemme van die sosiale wetenskaplikes, die ekonome en die kommunikasiewetenskaplikes te luister. “Hulle raak al hoe belangriker in ons lewens, hoe ons ons boodskap oordra en hoe ons met die verbruiker kommunikeer.

“Die grootste fout wat boere vandag kan maak, is om eenvoudige antwoorde te gee vir moeilike vrae wat vir ons gevra word. Dit sluit vrae in oor landbou se rol in gesondheid, biodiversiteit, omgewing, klimaat, wat ons produseer en hoe ons dit produseer. Dan is die groot kwessie, klimaatsverandering.”

Hy het ʼn teer punt aangeraak toe hy gesê het dat boere eerlik moet wees deur te erken dat landbou nie in harmonie met die natuur is nie. “Dit was nog nooit nie, die natuur wil balans bewerkstellig en produseer nie surplusse nie. Dit wil mededinging uit die weg ruim en dit is waarom boere deurlopend onkruid, insekte en roofdiere moet beveg wat hul vee bedreig.”

Dr. Theo de Jager, president van die WFO, het Britse boere besiel met die belofte wat hy ingestel het. (Foto: Youtube-skermgreep)

Hy het egter bygevoeg dat boere die kwesbaarste vir klimaatsverandering is en die grootste verskil in ʼn kort tyd kan maak. “Elke boer weet presies wat hy of sy beter op die plaas kan doen en dit is belangrik dat ons dit doen. Dit is ook belangrik dat ons vir die wêreld vertel dat ons dit doen.

“Niemand leef so na aan die natuur soos ʼn boer nie. Ek het nog nie ’n boer ontmoet wat nie ʼn spesiale plek in sy hart vir die natuur se kragte het en wat nie verstaan hoe afhanklik ons van die natuur is nie.”

Volgens De Jager is ʼn boer se grond sy belangrikste bate en meer as 90% wat ʼn boer aan klimaatsverandering kan doen, is in sy grond. “Grond gaan nêrens heen nie, dit is joune en die belangrikste belegging wat jy op jou plaas kan doen, is in die gesondheid van jou grond.

As genoeg boere dit doen deur klimaatvriendelike of klimaatslim landbou toe te pas, sal ons die meeste uitdagings van klimaatsverandering, die natuur en biodiverstiteitskwessies die hoof kan bied.

Hy het daarna vir groot opgewondenheid gesorg toe hy sy innoverende droom met die gehoor gedeel het, om die wind uit beleidmakers wat teen landbou werk, se seile te neem.

“Ek hoop om genoeg boere te kry om ʼn boer-tot-boer-belofte vir grondgesondheid te onderteken: ‘Ek onderneem om my stukkie grond, waarvan ek vir ʼn baie kort tyd in die planeet se leeftyd die rentmeester is, in ʼn beter toestand vir die volgende geslag te laat, as waarin ek dit ontvang het’.”

Hy is met luide toejuiging begroet en van die kongresgangers het gevra om net daar en dan die belofte te onderteken.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Kerneels

‘n Groot tree in die regte rigting, Dr de Jager! Grondgesondheid is nie iets nuuts nie, maar dis verblydend om te sien dit kry nou grootter prioriteit en meer aandag.