Borane nou ook onder gBLUP-elite

500 van Suid-Afrika se top Boran-beeste se genomiese inligting is beskikbaar gemaak. (Foto: www.boran.org.za)

Die SA Boran-beestelersgenootskap is die jongste om sy uitblinkerbeeste se genomiese inligting te karteer.

Dié genootskap het aan SA Stamboek se Vleisbees- genomiese program (BGP) deelgeneem wat in 2015 van stapel gestuur is. Net minder as 500 geskikte geneties invloedryke Boranbeeste is gegenotipeer om die grondslag te vorm vir ʼn toekomstige genomiese verwysingspopulasie.

In 2018 is genomiese inligting vir die eerste keer gebruik vir hierdie doel, toe die eerste genomiese teelwaardes tot voordeel van die kommersiële vleisbeesprodusente vrygestel is.

Om dié status te bereik word die metode genaamd enkelstap genomiese beste liniêre onsydige beraming (gBLUP) ingespan, ʼn moderne tegnologie om die genetiese meriete van plaasdiere akkuraat te voorspel. Dit is ʼn enorme verbetering op die gewone metode om teelwaardes deur meting te bepaal.

Die Boran-telersgenootskap is nou die tiende SA Stamboek-lid om hierdie era te betree.

Maroela Media het vroeër berig dat die Hugenoot-beesras ook met hierdie stelsel spog.

Die eerste ras in Suid-Afrika wat Stamboek se genomies verrykte BLUP-teelwaardes (GEBV’s) ontvang het, was die Bonsmara, gevolg deur die Beefmaster-, Drakensberger- en Hereford-beesras. Al drie melkbeesrasse, Holstein, Jersey en Ayrshire, het dit ook ontvang en onder die skaaprasse kan die Merino ook by die lys gevoeg word.

Stoetbulle en -koeie wat relatief onverwant is en ʼn uitgebreide nageslag het, waarvan die gemete waardes aangeteken is, is ideale kandidate vir dié program. Hul genetiese kode en waardes as teeldiere word dus bepaal en wedersyds gebruik om akkurate voorspellings te maak vir hul aanwas, wat oorweeg word as teeldiere vir toekomstige geslagte.

Inligting van merkers van enkelgene van onder meer verskillende genetiese afwykings en ernstige genetiese siektes, asook poenskopgene, dubbelbespiering en vleissagtheid is van die bruikbare data wat ontsluit word.

Die Boran-genootskap het onderneem om verder in hierdie stelsel te belê deur sy verwysingspopulasie uit te brei.

Stamboek en sy telersgenootskappe se belegging in plaaslike hulpbronne en veral die uitbreiding van die vermoë van plaaslike wetenskaplikes en infrastruktuur, plaas Suid-Afrikaanse telers en die bedryf op dieselfde vlak as die bestes wêreldwyd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SjN ·

Ongelukkig het hul dieselfde pad as die sogenaamde eksotiese wild geloop!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.