Bray-boer wil ander slagoffers help

Skenkings in die vorm van beeste, geld en voer het van oral af ingestroom om Ockert Goosen weer op die been te kry. (Foto: Verskaf)

Hulp vir Ockert Goosen, die jong boer in die Bray-omgewing wat ʼn week gelede 44 beeste verloor het nadat die diere glo deur ʼn sindikaat vergiftig is, het van reg oor die land en tot so ver as Namibië ingestroom.

Die 25-jarige Goosen het maar twee en ʼn half jaar gelede begin boer en moes skuld aangaan om sy droom te verwesenlik. Sy pa en skoonpa het hom ook baie bygestaan, maar sy droom is ʼn gevoelige slag toegedien toe hy ook ʼn slagoffer van ʼn berugte wildstroop- en veediefstalsindikaat geword het.

Hy is inderwaarheid die derde veevergiftiging-slagoffer in die streek.

Maroela Media het met Goosen gesels om te hoor hoe hy hierdie traumatiese ervaring die hoof gaan bied – en hy was hoorbaar dankbaar oor al die weldade. “Dié naweek het daar ʼn vragmotor met 20 beeste opgedaag en dié week kom daar nog beeste. Daar is ook beeste geskenk wat ek moet gaan haal. Daar is ook ʼn vrag voer geskenk.

“Ek wens ek kon na elke ou toe ry en hom ʼn handdruk gee en vir hom sê ek waardeer dit baie.”

Goosen is baie lief vir Bonsmara-tipe beeste, maar hy het baie planne vir elke bees wat gaan opdaag. “Ek is ook gereed om enige tipe beesras in my nuwe kudde te akkommodeer; enige ras en kleur doen besonders goed in ons omgewing.”

Hy sê daar is nou soveel diere op pad en hy weet nie hoe om vir mense te sê om nou op te hou nie. Hy gaan egter nie die beeste wat te veel is bloot bymekaarmaak nie.

“Ek het vir my pa gesê ek wens ek kan ander boere ook eendag help soos wat hulle my gehelp het. Hierdie diere kom van oral en reg oor Suid-Afrika en daar het selfs iemand uit Namibië gereël dat daar beeste van sy familie in Suid-Afrika gestuur word. Ons het nou planne gemaak en sodra ek my beeste vervang het, gaan ek die ekstra beeste benut om iemand anders weer eendag te help.

 

Die geskenkte beeste is reeds tuis op Ockert Goosen se plaas. (Foto: Verskaf)

 

“Ek dink dit is die regte ding om te doen.”

Goosen het ook sekerheidsmaatreëls ingestel om te verseker dat sy nuwe beeste veilig sal wees.

Die voorval het groot opslae gemaak en verskeie organisasies aangemoedig om misdadigers wat hulle in die streek skuldig maak aan veediefstal en wildstropery, vas te vat.

Hou duim vas vir nuwe hulp

Daar is wel vroeër soortgelyke pogings van stapel gestuur. “So vier of vyf jaar gelede het ons as georganiseerde landbou self begin patrollies ry,” sê Nicol Muller, voorsitter van die Molopo-boere-unie in dié streek.

“Ons boere moet boer en kon dit nie deurlopend doen nie en het toe ʼn sekuriteitsmaatskappy aangestel, maar hoewel die verdagte verskeie kere op heterdaad betrap is, kon die maatskappy nie veel uitrig nie, want hulle het ook die samewerking van die plaaslike polisie nodig om die saak verder te neem.

“Ons het ook elke maand ʼn samewerkingsvergadering in Vryburg tussen alle rolspelers soos die polisie, al die staatsdepartemente, die brandweer, verkeerspolisie en rampbestuur om oplossings vir probleme te vind, maar die polisie is die voorsittende beamptes en notulehouers van die vergadering en daar het ook nie veel van gekom nie.

“Maar ons is hoopvol en hou duim vas dat die nuwe taakspan iets sal uitrig.”

Muller het in Augustus verlede jaar ook onder dieselfde verdagte deurgeloop toe hy een vers verloor het. Hy kon egter betyds ingryp en sy ander beeste van die waterkrip waarin die gif gegooi is, verwyder. Sy plaas is ook op vyf plekke aan die brand gesteek waartydens hy 30 ha verloor het.

Sy kameras is ook stukkend gegooi.

Hy sê ʼn ander boer het twee jaar gelede 70 beeste verloor, maar hy wou nie hê inligting daaroor moes bekend gemaak word nie.

 

Ockert Goosen sê hy het ‘n plan met die beeste wat oorbly om ander vergiftiging-slagoffers te help. (Foto: Verskaf)

 

“Daar is selfs al interdikte teen die bepaalde verdagte bekom om hom te verhoed om naby ons grond te kom, maar die polisie steur hulle nie daaraan nie.”

Daar was ook al ʼn geval waar die sindikaatlede vuurwapens op boere gerig het, maar die klagtes wat daaroor ingedien is, was vrugteloos.

John Rankin, streeksvoorsitter van TLU SA in Noordwes, het vir Maroela Media gesê tydens die maandelikse klustervergadering in die provinsie, waar misdaadstatistieke gedeel word, het die polisie bevestig dat daar reeds talle sake teen die verdagte is en dat hulle die persoon selfs al aangekeer het.

Die polisie het egter aangevoer dat hulle nie veel meer kan doen nie omdat die saak in die howe sloer en uitgestel word.

Wees versigtig met skenkings

“Ons het so vyf jaar gelede met die nasionale polisie ʼn gesprek gehad om in te gryp in die Bray-gebied, waarna hulle ook ʼn taakspan gestuur het, maar daar het nie veel van gekom nie,” sê Naudé Pienaar, adjunk-hoofbestuurder van Agri Noordwes. “Ons kry wel baie goeie samewerking van die Nasionale Vervolgingsgesag, wat ook gefrustreerd is dat die polisie nie die saak verder neem nie.”

 

Van die beeste wat reeds op Ockert Goosen se plaas afgelewer is:

 

Pienaar is ook medestigter en koördineerder van Manna vir die boere, ʼn hulporganisasie wat uit Saai, TLU SA, AfriForum, Caring Daisies en Agri Noordwes bestaan. Hierdie organisasie het bekend geword deur hul omvattende aksies om boere tydens rampe by te staan.

Pienaar waarsku egter dat skenkers versigtig moet wees voor hulle enige slagoffers te hulp snel.

“Manna vir die boere is al baie lank by hulpverlening vir boere betrokke en ons het al gesien wanneer sulke aksies nie deur ʼn sentrale punt gekoördineer word nie, dit nie die gewenste doel bereik nie. Sommige boere kry hopeloos te veel hulp en dan sal sy buurman, wat in dieselfde nood verkeer, niks kry nie. Ons maak seker dat die regte hulp by die regte plekke uitkom.”

Daar moet ook seker gemaak word dat skenkings aan bona fide‑hulporganisasie gedoen word omdat van die skenkings in die verlede al verdwyn het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hans ·

Ek is nie vir geweld nie, maar soms moet man geweld met geweld beantwoord.
Tyd vir boere om balaclavas te gebruik en bundu-hof geregtigheid, om misdaad te stop. Het hierdie in swart gebied gebeur, het gemeenskap lankal plan gemaak!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.