Daadwerklike optrede teen bek-en-klouseer begin

Vee wat met bek-en-klouseer besmet is word nou uitgeslag (Foto: Maroela Media)

“Die behoefte aan ʼn naspeurbaarheidstelsel in die rooivleisbedryf het nou van kritieke belang geword weens die uitbreking van bek-en-klouseer.” Dit is die woorde van James Faber, voorsitter van die Nasionale Rooivleisprodusente-organisasie (RPO). Hy sê daar sal eers met ʼn praktiese, vrywillige stelsel afgeskop word en dit dan verfyn.

Maroela Media het vroeër berig dat ʼn organisasie, Rooivleisbedryfsdiens (RMIS), deur die primêre rooivleisgroepering gestig is met die doel om die bedryf saam te laat werk om bek-en-klouseer te bekamp en die bedryf te bevorder.

Faber het tydens ʼn onlangse vergadering van belanghebbendes in dié bedryf gesê internasionale handelsvennote en verbruikers dring al hoe meer aan op ʼn stelsel wat die beweging van diere en vleis deur die waardeketting kan volg en dit het ook noodsaaklik geword wat marktoegang betref, hetsy binnelands of internasionaal.

ʼn Inisiatief is vroeër van stapel gestuur om ʼn lewendehawe‑identifikasie‑ en naspeurbaarheidstelsel (LITS-SA) te ontwikkel. Dit is besig om vorm aan te neem en word deur die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling (DALRRD), in samewerking met die veebedrywe en die WNNR, ontwikkel.

Die toetsfase word tans in die bek-en-klouseer-endemiese gebiede uitgevoer, maar hoewel daar op ʼn deurlopende basis aan LITS gewerk word en die bedrywe baie daarby betrokke is, sal dit volgens Faber nog ‘n wyle duur om dit ten volle te implementeer.

“Die inisiatief sal aanvanklik fokus op individuele diere-identifikasie met unieke oorplaatjienommers en sal op ʼn dringende grondslag in die bees- en kleinveebedrywe geïmplementeer word. Die nommers sal ook gekoppel word aan die besonderhede van die eienaar en die plaas.”

Boere sal van private diensverskaffers wat reeds dié dienste lewer, gebruik kan maak en sal self vir die stelsels betaal. Dit word voorsien dat kommersiële boere op ʼn vrywillige basis sal deelneem en die staat verantwoordelikheid sal aanvaar vir die implementering van ʼn stelsel in die ontwikkelende sektor.

Faber sê die implementering van die stelsel het die ondersteuning van die staat en sal waarskynlik eindig in ʼn openbare‑private vennootskap (OPV). Die inisiatief sal gedryf word deur die primêre rooivleisgroepering wat bestaan uit die RPO, NERPO, SA Voerkraalvereniging en Rooivleisabattoirvereniging.

 

Uitslag van diere

Thoko Didiza, minister van DALRRD, het die bedryf verseker dat die regering alles in sy vermoë doen om die uitbreking van bek-en-klouseer in die kiem te smoor. Daar is derhalwe begin om besmette diere in Gauteng uit te slag, wat ook in Noordwes en die Vrystaat voortgesit sal word. “Hierdie benadering is daarop gemik om te verseker dat hierdie provinsies bek-en-klouseer‑vry sal word.

“My KZN-span het ook onderneem om na die vloede ʼn inspeksie te doen om te verseker dat die siekte in die rampbestuursgebied ingeperk bly.”

Die minister het ook onderneem om die aanbevelingsverslag van die ministeriële taakspan oor biosekerheid vir dieregesondheid voor die einde van die maand vry te stel.

“Laat ek dit duidelik stel dat daar geen verdraagsaamheid sal wees teenoor die onwettige verskuiwing van enige vee met gesplete hoewe vanaf besmette gebiede of eiendomme nie. Ek wil herhaal dat naspeurbaarheid deur die bedryf gedryf word en die LITS SA so spoedig moontlik geïmplementeer moet word.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.