Weens onvoldoende reënval heers daar tans ʼn enorme krisis in die lang, smal strook waar die Oos- en die Wes-Kaap ontmoet. Dit sluit dele van die Klein-Karoo, Baviaanskloof, die Langkloof en die Gamtoosvallei in en strek selfs verder tot diep in die Oos-Kaap.
Hier het dit ses jaar laas behoorlik gereën en inwoners kan teen Junie sonder ʼn druppel water sit indien dit nie voor dán ʼn paar keer behoorlik reën nie. Sitrusboere waarsku ook die watertekort het ʼn geweldige invloed op die gehalte én grootte van vrugte wat tans geoes word.
Sake lyk veral beroerd in die Port Elizabeth-streek wat deur die Kougadam bedien word. Dié dam se watervlak het die afgelope week op slegs 4,6% gestaan. Maroela Media het vroeër berig dat daar na afloop van ʼn biddag by die Kougadam ʼn paar weke gelede wel reën geval het. Dit was egter nie genoeg om ʼn verskil aan die hoeveelheid water in die dam te maak nie en die damvlakke het in der waarheid sedertdien met nóg 0,3% afgeneem.
Die Kougadam is die belangrikste dam wat besproeiingswater vir die sesde grootste sitrusstreek rondom Patensie in die Gamtoosvallei verskaf. Die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit het intussen aangekondig dat indien die gebied nie binnekort noemenswaardige reënval ontvang nie, dag Zero op 1 Junie sal aanbreek. Dit beteken dat daar nie ʼn druppel water uit die dam beskikbaar sal wees nie. Die kanse vir behoorlike reën word ook al hoe skraler namate die winter naderkruip.
Volgens weeklikse statistieke wat deur die nasionale departement van water en sanitasie bekendgemaak word, lyk die damme wat die Nelson Mandelabaai-metropool voed soos volg: die Churchilldam is 28,7% vol; die Impofu-dam 15%; die Groendaldam 29% en die Loeriedam 44,25%. Damme in die Oos-Kaap wat ook besonders leeg is, is die Nuwejaarsdam met 4%, Lake Arthur met 3,2% en die Kommandodriftdam met slegs 7%.
Volgens boere in die provinsie is die plaasdamme ook feitlik leeg en die fonteine het opgedroog.
Boere sukkel
Die voortslepende droogte het ʼn ernstige invloed op die gebied se boerderybedrywighede. “In die Gamtoosvallei word daar hoofsaaklik met sitrus, kontantgewasse en melk geboer,” sê Rienette Colesky, uitvoerende hoof van die Gamtoos-besproeiingsraad. “Die meeste van ons melkboere het na ander gebiede uitgewyk en hulle daar gaan hervestig. Die res voer hulle beeste teen astronomiese koste. Die groenteboere boer ook op alternatiewe plekke net om die kontrakte met hulle leweransiers te eerbiedig. Daar word byna met geen kontantgewasse meer geboer nie. Hier is ook ʼn aarbei- en bloubessieplaas wat ernstig deur die watersituasie benadeel word.”
Die sitrusboere kry hul water uit die kanaal wat deur die Kougadam voorsien word. Sedert Julie verlede jaar mag hulle slegs 20% van die water gebruik waarop hulle geregtig is. Dié watertekort het ʼn geweldige invloed op die gehalte en vruggrootte wat tans geoes word.
“Volgens wet mag die boere nie oor hulle waterkwota gaan nie. Indien hulle kwota op is, word hulle krane toegedraai,” sê Colesky. “Baie het in hierdie tyd boorgate gesink, maar die water is nie noodwendig goed vir landbougebruik nie, want die soutgehalte is te hoog. Dit is in sommige gevalle net ʼn tydelike oplossing wat nie noodwendig alle behoeftes kan bevredig nie. Dit is ook verskriklik duur om boorgate te sink.”
Uit desperaatheid meng sekere boere die dam se water met die brak water uit hulle boorgate.
Colesky sê boere kry wel ʼn bietjie reën onderkant die Kouga se damwal, sowel as in die opvangsgebied, maar hierdie reën is te min om enige verskil aan die damvlak te maak.
“Ons kry ook geen hulp van die staat nie. Ons besproeiingsraad word 100% deur die boere gefinansier. Die metro betaal ʼn gedeelte van die onderhoud en operasionele koste van die hoofkanaal en die dam.”
ʼn Wildboer in die Grahamstad-Alexandria-gebied en voorsitter van Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA), Gerhard Heyneke, sê dat hulle die afgelope paar weke ʼn bietjie reën gekry het, maar dat dit nie naastenby genoeg is om die droogte, wat al ses jaar in sy gebied heers, te breek nie. Dit lei inderwaarheid tot ʼn baie misleidende en gevaarlike verskynsel, wat hulle ʼn groen droogte noem.
“ʼn Groen droogte kom voor wanneer bestaande gras uitloop en ʼn groen skynsel vertoon, maar nie die volume groei het vir voldoende langtermynvoeding nie.” Hierdie spruite gaan dan kort daarna dood omdat daar nie voldoende grondvog is om dit verder te laat groei nie. Die diere vreet dit ook vinnig op, of die son en wind skroei dit dood. Onkruid kom ook op wat nie veel voedingswaarde vir die diere bied nie.”
Jansie Both is een van die boere in die Gamtoosvallei wat nou net op oorlewing fokus. “In die sewe geslagte op ons familieplaas was dit nog nooit nodig, selfs te midde van die ergste droogtes, om alternatiewe waterbronne te ondersoek nie. Dit het altyd net betyds gereën om die sitrusbome te lawe.
“Ons kan nou boorgate sink, maar die mate van sukses is skraal. Heelwat van die boere wat uit die Kougadam se kanale besproei se krane is letterlik toegedraai. Dit beteken geen water word deurgelaat nie – ons waterkwota is op. Die groter boere het watertenkers gekoop wat tot 30 000 liter kan vervoer. Hulle gaan pomp water waar hulle kan en ry dit na hulle besproeiingsdamme toe aan. Hulle loop dag en nag en dit is ʼn reuse-kapitaaluitleg.”
Johann Steyn boer tussen Middelburg en Graaff-Reinet en sê ander streke het dieselfde lot. “Rofweg kan jy ʼn streep van oos na wes by Graaff-Reinet trek. Die gebied noord daarvan het genoeg reën gekry en suidwaarts gaan dit baie sleg. “Willowmore, Jansenville, Aberdeen, Kirkwood en Klipplaat lyk haglik. Die boere het slegs tussen 24 mm en 5 mm gehad en dit knou die manne erg. As almal behalwe jy reën kry maak dit ʼn man moedeloos. Die herstelvermoë van die veld raak ook by die dag swakker en daar is nie ʼn boer wat dink dat sy grondwater en veld in een seisoen gaan regkom nie.”
Toe die Wes-Kaap se droogte baie erg was het ‘n ANC raadslid vanaf iewers in die binneland gesê dat die Here die Wes-Kaap met droogte straf omdat meeste kiesers daar DA stem. So dan verstaan ek die droogte in die Kouga en Nelson Mandelabaai munisipaliteite, want die sondige rassistiese DA is daar in beheer. Wat ek egter nie verstaan nie, is dat die res van die Oos-Kaap, waar die hoogheilige ANC ten volle in beheer is, ook droog is. Vir watse sonde word hulle dan gestraf? Meeste kiesers daar het dan 100% binne die wil van die Here gestem vir die korrupsie, swak of geen munisipale dienslewering, onbevoegde kaderontplooiing ens van die hoogheilige ANC.
Die weerstelsels kry nie die gebied rondom PE na al die belaglike naamsveranderinge nie, nou gooi hulle maar elders reen uit.