Departement gryp in met varkpes-inligtingsdae

Varke wat los rondloop is meer vatbaar vir varkpes. (Foto: Pascal Debrunner, Unsplash)

Twee gebiede in die Tuinroete is einde verlede maand inderhaas onder kwarantyn geplaas toe Afrika-varkpes (ASF) daar uitgebreek het.

Maroela Media het vroeër berig dat hierdie gevaarlike siekte in KwaNonqaba, Mosselbaai en Thembalethu, George, aangeteken is.

Omdat ASF ʼn uiters aansteeklike siekte is en daar nie ʼn entstof beskikbaar is nie, moes die staat ingryp.

Volgens die Wes-Kaapse departement van landbou het 240 varke reeds gevrek en help hulle tans die kleinskaalse boere om op ʼn verantwoordelike wyse van die karkasse ontslae te raak. Vir hierdie doel het plaaslike munisipaliteite ontsmettingsmiddels verskaf en plekke geïdentifiseer waar die karkasse begrawe kan word.

Die plaaslike staatsveearts het ook begin om biosekerheidsmaatreëls te implementeer, wat onder andere behels dat varke slegs uit die gebied geneem mag word as ʼn permit uitgereik is.

Amptenare van die departement se staatsveeartsenydienste, die boere se ondersteuning- en ontwikkelingsprogramme en die Suid-Afrikaanse Varkvleisprodusente-organisasie het ook na die besmette gebiede gegaan om drie inligtingsdae vir boere te hou. Die eerste inligtingsessie het gister plaasgevind en dit gaan vandag en môre voort.

Die doel van dié dae is om bewustheid te skep en inligting te verskaf oor ASF, biosekerheid en vrae oor algemene varkboerdery-kwessies.

Vandag se sessie word in Thembalethu by George aangebied en môre s’n in Kwanokuthula by  Plettenbergbaai.

Gister se sessie is in Mosselbaai gehou en Maroela Media het by dr. Leana Janse van Rensburg, een van die staatsveeartse wat die inligtingsdae aanbied, gaan hoor hoe die gemeenskap die uitbreking hanteer.

“Daar was gister 30 boere in Mosselbaai en vandag 50 in George. Ons bied die sessies in Afrikaans, Xhosa en Engels aan, afhangend van die behoefte van die gehoor.”

Sy sê die uitbreking het net in die informele nedersettings voorgekom en sommige boere het al hul diere verloor.

Daar is ook heelwat uitdagings, soos dat varke in eenvoudige of tydelike strukture gehuisves word en varke van verskillende boere saamloop, wat dit moeilik maak om eienaarskap te bepaal.

Sy sê SAPPO, die munisipaliteit en die veeartsenykundige dienste het kalk voorsien en jy kan sien hier is ʼn sterk spanpoging om die krisis die hoof te bied. Die kleinboere verstaan die omvang van die skade en eienaars wat betrokke by hul diere is, neem self die karkasse na die toegewysde terreine en gooi kalk daarop.

Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, het sy dank teenoor Mosselbaai se plaaslike munisipaliteit betuig oor die manier hoe hulle bystand verleen het met ontsmetting en die wegdoen van karkasse. “Mosselbaai se DBV speel ook ’n kritieke rol deur hul daaglikse kontrole, om te verseker dat geraakte varke op ʼn menslike manier doodgemaak word.”

Die departement het ʼn beroep op boere gedoen om steeds doeltreffende biosekerheidsmaatreëls te implementeer. Dit behels dat varke ingeperk gehou moet word om kontak met ander varke te vermy en mense moet hul hande, skoene, klere en toerusting ontsmet voor en na kontak met varke of varkprodukte. Daarmee saam moet vleisprodukte wat aan varke gevoer word, deeglik gaargemaak word om die virus te inaktiveer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.