Derde Nampo-skou uiteindelik hier

Nampo Alfa gaan vanjaar op Nampo Park aangebied word. (Argieffoto: Gaan SA)

Die derde skou onder die Nampo-vaandel gaan na twee jaar se Covid-19-ontwrigting uiteindelik ʼn werklikheid word.

Na breedvoerige gesprekvoering in 2019 het Graan SA, die houer van die Nampo-handelsmerk, en die African Livestock Trade Fair (Alfa), wat reeds vroeër welslae in die Afridome in Parys behaal het, besluit om hande te vat en ʼn nuwe skou op die landboukalender te plaas.

Die streng inperkings het egter dié planne vir twee jaar op ys geplaas, maar vanaf 29 September tot 1 Oktober gaan die heel eerste Nampo Alfa lewendehawe-, jag‑ en buitelewe-ekspo op Nampo Park net buite Bothaville aangebied word.

In ʼn verklaring het Nampo Alfa gesê dat die lewendehawebedryf in Suid-Afrika aan die groei is en ʼn belangrike deel van die plaaslike ekonomie uitmaak. Hierdie groei was duidelik sigbaar in die feit dat Alfa oor ʼn vier jaar tydperk tot die beste lewendehawe-ekspo in die land gegroei het. Die volgende logiese stap sou wees om dit nog groter te maak, en met jare se suksesvolle aanbiedinge agter sy naam, is Nampo Park die ideale plek waar Alfa sy vlerke kan sprei.

Nampo-Alfa beloof dat daar vanjaar weer ʼn propvol lewendehawe-program vir jonk en oud sal wees waaraan oud en jonk sal kan deelneem.

Daarmee saam bestaan daar tans ʼn groot behoefte onder boere aan ʼn jag- en buitelewe-ekspo met ʼn praktiese aanslag. Lewende hawe, buitelewe en jag is aanvullende aspekte van die Suid-Afrikaanse landbougemeenskap en die samesnoering daarvan bied ʼn wenresep.

Nampo Park beskik reeds oor goeie stelsels en infrastruktuur, onder andere genoegsame parkering, kiosks, ablusie- en veefasiliteite en ander lokale wat nie net die groot geleentheid met gemak kan huisves nie, maar ook geleentheid vir groei bied. Boonop bied Nampo Park nog ʼn groot voordeel – die Suid-Afrikaanse boer voel reeds tuis daar.

Volgens die organiseerders word ʼn magdom geleenthede gebied, wat praktiese demonstrasies van 4×4-voertuie, woonwaens, kampeer- en jagtoerusting insluit. Dit sluit selfs ʼn moontlikheid van ʼn skietbaan in waar belangstellendes die praktiese ervaring van toerusting kan ervaar en geniet.

Nampo Park is gedurende die ekspo ook die tuiste van die nasionale Suid-Afrikaanse Rally Raid-kampioenskap en besoekers kan bekende renjaers in aksie sien.

Aan die lewende hawe se kant word verskillende spesies, soos vleis- en melkbeeste, kleinvee, varke en bokke verteenwoordig. Dit sluit die Nasionale Vleisbees-interraskampioenskap en die Junior Interras-kompetisie in, wat deur landbouskole aangebied word. Daarbenewens gaan die verskillende prestasie-kampioenskappe vir groot- en kleinvee, asook die Moneymaker-kwalifiseerders vir groot- en kleinvee te siene wees.

Die jeug- en studenteprogramme is ook weer terug en sluit mini-ekspo’s met werkperde en -honde, konyne en pluimvee in.

 

Met dié groot verskeidenheid te sien en te doen, beloof die ekspo om vir lewendehawe- en natuurliefhebbers, jagters, avontuurlustiges en natuurlik die adrenalienverslaafdes, dié een te wees.

Die tweede Nampo‑skou, Nampo Kaap, vind vanaf 14 tot 17 September in Bredasdorp in die Wes-Kaap plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.