Dié boere is klimaatslim

Die finaliste in die Veeplaas klimaatslim-kompetisie is Stefan Erasmus van Middelburg in die Oos-Kaap, James Faber van Barkly-Wes, Matthew Morgan van Tarkastad en Willie Storm van Olifantshoek.

Die spanning loop hoog tussen vier boere wat meeding om as die Veeplaas- klimaatslim ambassadeur vir 2022 aangewys te word.

Plaas Media het aan die begin van 2022 dié nuwe projek van stapel gestuur, in samewerking met die spesialis landbou-raadgewer, dr. Louis du Pisani, ’n kundige op die gebied van veldweiding, lewendehawe en boerdery-ekonomie.

“Die projek het ten doel om veeprodusente te identifiseer wat klimaatslim boerderypraktyke op hul plase implementeer en wat passievol is oor die bewaring van hul omgewing en hulpbronne. Dit moet ook individue wees wat bereid is om hul kennis oor te dra en ander veeprodusente wat hierdie selfde passie vir hul omgewing deel touwys te maak om hierdie praktyke ook op hul eie plase te implementeer,” sê Du Pisani.

Die deelnemers moes ’n vraelys op www.agriorbit.com voltooi waarna hul boerderypraktyke uit ses hoeke oorweeg is: veldbestuur; kuddebestuur; bestuur van kaal grond, erosie en bosindringing; droogtebestuur; finansiële bestuur en kennis oor klimaatsverandering. Die deelnemers se antwoorde is op ’n skaal van een tot tien beoordeel, die antwoorde sowel as die puntetellings is oorweeg en op grond daarvan is die finaliste gekies.

Die finaliste is Matthew Morgan van Tarkastad, Stefan Erasmus van Middelburg in die Oos-Kaap, James Faber van Barkly-Wes en Willie Storm van Olifantshoek.

Du Pisani sal eersdaags die plase van die finaliste besoek vir kontrolering en om die deelnemers se klimaatslim boerderypraktyke van nader te beskou.

Na afloop van die plaasbesoeke sal die ambassadeur aangewys word. “Nie net is ’n handige kontantprys vir ons wenner beskore nie, maar die wenner sal ook later vanjaar ’n boeredag op sy plaas aanbied waartydens hy sy kennis en praktyke met ander deelnemers en produsente wat meer oor hierdie praktyke wil leer, kan deel. Borge sal ook ’n kans kry om met die wenner en ander produsente te skakel en hul passie vir klimaatslim boerdery te deel,” sê hy.

Die borge vir 2022 is Nutri Feeds, Pioneer, Zoetis, Nedbank en Metos SA.

Du Pisani sê die finaliste het hulleself van die ander inskrywings onderskei en blink op sekere gebiede uit. “Ek was beïndruk met al die slim en nuutskeppende strategieë en praktyke wat die finaliste gebruik om die uitwerking van ’n hoogs veranderlike klimaat te versag, asook die manier waarop hulle elke druppel reënwater laat tel. Dit is beslis ’n strawwe kompetisie, en dit gaan ’n uitdaging wees om die uiteindelike wenner te kies.”

Kyk hier na die aanwysing van die finaliste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.