Duurste Sussex gebore uit skoufamilie

Nollie Stofberg jnr; Hogart Gevers, koper; Nollie Stofberg, verkoper; Melani Stofberg; Pieter Stofberg; Allan Sinclair, Vleissentraal afslaer; Danie Pienaar, Vleissentraal verteenwoordiger en Felix, bulleier van Platdrif boerdery is baie ingenome met die prys en potensiaal van dié bul. (Foto: Verskaf)

Die rekordprys wat einde verlede week vir ʼn Sussex-bul betaal is, is ʼn teken dat stoetboere weer daarna hunker om met ʼn suiwer ras te teel. Dit is die mening van Abrie Posthumus, bemarker van die Sussex-telergenootskap.

Tydens die 22ste Sussex- nasionale veiling wat op Bloemfontein se skouterrein gehou is, het ʼn bul met die naam Platdrif Stockman die derde, vir R260 000 van hand verwissel.

Die koper was Hogart Gevers van Vryheid in KwaZulu-Natal.

Posthumus sê jare gelede was daar baie Sussex-stoetbeeste, “maar hulle getalle het ʼn dip gevang toe die boere begin het om hulle met inheemse rasse te kruisteel om vir laasgenoemde meer vleis aan te sit.

“Sake is besig om te verander en nou is daar weer ʼn dryf om suiwer genetika van ʼn goeie gehalte in die hande te kry.”

Die verkoper was Nollie Stofberg van Platdrif Sussex, wat buite Worcester boer. Hy het vir Maroela Media gesê hy streef daarna om net goeie bulle te teel. “Dié bul het baie goeie bloedlyne, sy moeder, ouma en oumagrootjie was almal skoudiere.”

Poenskopbeeste, wat die voordeel inhou dat hulle nie horings het wat gevaarlik is of afgebrand moet word nie, is skaars onder die Sussex’e, maar Stockman is sonder horings gebore. “Dit het my dadelik opgeval,” sê Stofberg. “Verder het die bul alles wat jy nodig het – sterk bene, manlikheid, bespiering en lengte van lyf.

“Baie mense vra my waarom ek die bul verkoop het, maar ek het gevoel ek moet ʼn topgehalte bul in die mark te sit wat iets vir die ander stoeterye kan beteken. Ek het egter steeds sy ma en pa en ʼn vol broer wat ek nou gespeen het. Ek het ook ʼn saadaandeel van hom teruggehou.”

Stockman is drie jaar oud en Stofberg sê hy is baie opgewonde oor die moontlikhede wat die bul inhou. “Ek het vroeg in die jaar ʼn paar koeie by hom gesit en ek kan nie wag dat die kalwers val om te sien watter potensiaal hulle inhou nie.”

Kruisteling is ʼn woord wat gereeld opkom as daar oor Sussex’e gepraat word en Stofberg sê van sy belangrikste kliënte is bonsmara-, brahmaan-, nguni-, boran- en simbra-boere.

Moenie gemiddelde pryse vergeet

Hoewel ʼn paar ander beesrasse se rekordpryse reeds die R1 miljoen-kerf verbygesteek het, voel Arno Cronjé, die president van die Sussex-telergenootskap, dat daar ook opwindende dinge onder die Sussex’e aan’t gebeur is.

“Oor die afgelope twee jaar was daar ʼn ongelooflike oplewing in ons bedryf. Dit word weerspieël in ons gemiddelde veilingspryse wat toenemend styg. Hierdie rekordprys is eintlik net ʼn bonus vir my en dit beteken nie dat die ander pryse van die bulle swak is nie, maar dit is wel ʼn bewys dat die gehalte van Sussex aanhoudend verbeter en dat dit ʼn beproefde ras is.”

Hy sê hulle het ʼn redelik gemiddelde nasionale veiling gehad, wat wel deur bek-en-klouseer beïnvloed is. Die gemiddelde prys op die veiling vir bulle was R67 571, vir koeie met kalwers R27 833, vir oop verse R20 000, vir semenstrooitjies R662 en vir embrio’s R4 400. Die veiling is deur Vleissentraal aangebied en die afslaer was Allan Sinclair.

Die vorige rekordprys vir ʼn Sussex-bul is verlede jaar deur Pothou-Sussex in Vredefort ingepalm toe sy bul vir R210 000 verkoop is. In 2016 is die derde hoogste prys deur Huntersvlei behaal toe sy bul vir R200 000 verkoop is.

Die Sussex-ras is al in 1066 beskryf en word as ʼn antieke ras beskou. Dit kom oorspronklik uit Engeland en is al 102 jaar in Suid-Afrika en volgens Cronjé al lankal reg oor die land aangepas. Die 40 stoeterye vind jy in die Kalahari, die Karoo, die Oos- en Wes-Kaap, Sentraal- en Oos‑Vrystaat en so ver noord as Ellisras (Lephalale).

Die eienskappe van dié ras wat vir Cronjé uitstaan, is eerstens die vleisproduksie per hektaar. “Mense onderskat altyd ʼn Sussex se gewig. Tweedens is kruisteling met ʼn Sussex-bul ʼn moet. Jy soek een van ons bulle op enige ander ras se koeie. Sussex’e het ook ʼn uitstekende temperament en ons bulle spring nie draad nie en is maklik om te hanteer, want arbeid en tyd is deesdae ʼn probleem. Ons bulle is ook baie vrugbaar,” voeg hy by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.